Die VF Plus het met skok kennis geneem dat Gauteng se departement van onderwys vandag aangekondig het dat kinders wat nog nie plek in skole het nie, slegs tot komende Vrydag die geleentheid het om die departement se aanbod vir plasings te aanvaar.
Hierdie dreigement dien as bewys dat Panyaza Lesufi as LUR vir onderwys, geen gevoel het vir die toekoms van die kinders van dié provinsie nie.
Indien Lesufi werklik die belange van die kinders in die provinsie op die hart gedra het en regtig bekommerd was oor hul opvoeding en opleiding, sou hy nie toelaat dat sy departement sulke dreigemente die wêreld instuur nie.
Die departement het nie sy verpligtinge nagekom om te sorg dat elke kind ‘n plek in ‘n skool het nie. Indien Lesufi al sy verpligtinge nagekom het, sou genoeg skole die afgelope vyf jaar gebou gewees het en sou daar nie nou ‘n krisis wees waar 14 000 leerlinge tien teen een nie ‘n heenkome gaan hê nie.
Hierdie jongste optrede van die departement is teenstrydig met die Grondwet van Suid-Afrika (Art 29 1 (a)) wat dit duidelik stel dat elke persoon die reg tot basiese onderrig het.
Lesufi en sy departement het met hierdie optrede die land se Grondwet vir die soveelste keer geminag en verbreek. Hierdie optrede van Lesufi en sy departement dra direk by tot werkloosheid, in die besonder in Gauteng.
Kontakbesonderhede: 060 556 4347


