Die Mooibank-ontwikkeling in die JB Marks-plaaslike munisipaliteit (Potchefstroom, Ventersdorp) sal nie tot voordeel van bestaande inwoners wees nie aangesien bestaande ontwikkelingsprojekte, wat nog nie afgehandel is nie, beter alternatiewe vir JB Marks se behuisingsprobleem bied.
Die Mooibank- en Vyfhoek-ontwikkelings vorm deel van die munisipaliteit se geïntegreerde-ontwikkelingsplan waarteen die VF Plus ook reeds gestem het.
Bestaande infrastruktuur in die munisipale gebied is reeds onder geweldige druk weens kritiese instandhouding wat nie plaasvind nie. Twee nuwe woonbuurte in die munisipaliteit is nie die antwoord op die behuisingsprobleem nie aangesien die munisipaliteit nie eens daarin slaag om die bestaande woonbuurte se dienste te verseker nie.
Die VF Plus stel as alternatief voor dat die goedgekeurde ontwikkeling in die Dassierand-gebied nou geïmplementeer word. Tot dusver kon die ANC nie daarin slaag om die proses verder as stads-en streeksbeplanning te kry nie.
Dit wys die ANC kan nie effektiewe implementering van raadsbesluite verseker nie. Intussen word inwoners ongeduldig vanweë die feit dat die ANC leë beloftes maak en niemand daarby baat vind nie.
Die meerderheid bestaande inwoners van die Mooibank-area is gekant teen die ontwikkeling en ‘n versoekskrif daarteen sal eersdaags ingehandig word. Die munisipaliteit het ook ‘n verantwoordelikheid om die belange van bestaande inwoners en hul eiendom te respekteer en te beskerm.
Dit is duidelik dat politieke-motiewe die ontwikkeling van beide die Mooibank- en Vyfhoek-ontwikkelings in die JB Marks-munisipaliteit aandryf.
Die VF Plus sal aanhou om terug te slaan teen polities-gemotiveerde ontwikkelings wat moontlik ‘n negatiewe uitwerking op eiendomspryse en veiligheid kan hê.
Kontaknommer: 079 885 1135