“Die uitreiking van lasbriewe vir die arrestasie van die hoof van die weermag (genl. Solly Shoke), hoof van die lugmag (lt.genl. Zakes Msimang) en die sekretaris van verdediging (dr. Sam Gulube) is ‘n skande vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW). Dit is ‘n swak voorbeeld van dissipline en skep die indruk dat hierdie offisiere hulleself as verhewe bo die reg beskou,” sê dr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder van Verdediging vir die Vryheidsfront Plus.
“Die feit dat die hof reeds op 30 Mei vanjaar ‘n bevel moes gee om gehoor te gee aan ‘n hofbevel van 10 September verlede jaar, en nou weer ‘n bevel moes uitreik vir arrestasie, is bewys dat hierdie offisiere minagtend is teenoor die reg en die hof. Die minister van Verdediging en Militêre Veterane, me. Nosiviwe Mapisa-Nqakula, moet dadelik hierdie offisiere skors en ‘n behoorlike ondersoek gelas na hulle gedrag.
Sou die verweer van die offisiere wees dat die administrasie in die weermag hulle in die steek gelaat het, dan is dit bewys dat die weermag onprofessioneel funksioneer en duidelik dan mense in poste het wat onbevoeg is daarvoor. Hierdie verleentheid is eintlik ‘n verleentheid vir die hele Suid-Afrika en skend die beeld van die weermag ook internasionaal,” het Groenewald gesê.
Kontaknommer: 083 627 4397