fbpx
Vryheidsfront Plus

Korrupsie in Emfuleni vier hoogty

Die VF Plus neem kennis van die verslag van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se openbare rekeningekomitee wat aandui dat die munisipaliteit se onreëlmatige besteding vir die 2017/18-finansiële jaar R827 446 370 beloop. Die party sal werk daarvan maak om rekenskap te eis van mense wat hulle in die proses aan vergrype skuldig gemaak het.

Dié komitee het twaalf maande gelede begin om ’n omvattende verslag saam te stel en dit is verlede week aan die raad voorgelê.

In die verslag word melding gemaak van die opsetlike versuim van senior amptenare om die nodige wetgewing en beleidsriglyne te volg.

Die verslag verwys na afwykings in kontrakte, voorsieningskanale wat nie behoorlik bestuur is nie en prosedures wat nie gevolg is nie. Hierdie ondeurdagte besluite plaas meer finansiële druk op die munisipaliteit wat dienslewering verder benadeel.

Altesaam dertien kontrakte is gedurende dié tydperk ondersoek waar R872 446 370 se onreëlmatige besteding voorkom waarvan R99 404 910.50 verhaalbaar is. Kontrakte waar korrupsie waarskynlik betrokke is, beloop R786 730 145.31.

Afwykings in voorsieningskanaal-bestuursprosesse en -prosedures beloop R19 758 325.27 terwyl duplikaat bestellings op R2 275 715.43 gereken word. Onreëlmatige besteding is R63 682 184.93.

Die komitee het aanbeveel dat voormalige personeel asook huidige personeel wat hulle skuldig gemaak het aan ongerymdhede, ondersoek en vervolg word. Die raad het die besluit goedgekeur.

Die munisipale raad het besluit om ’n interne ondersoek teen die waarnemende munisipale bestuurder, Oupa Nkoane, te begin. Een van die ondersoeke behels ’n kontrakteur wat as ‘onreëlmatig’ beskou word, maar vergoed is voordat die kontrak afgehandel is.

Korrupsie en ongerymdhede in munisipaliteite moet met wortel en tak uitgeroei word. Hierdie is die eerste stap om die munisipaliteit finansieel om te keer en ’n skoon administrasiebeleid te volg.

Die Emfuleni-munisipaliteit word gereken as een van die mees onderpresterende munisipaliteite in die land en is gereeld in die soeklig omdat dienslewering aan die publiek so vinnig agteruitgaan.

Die VF Plus sal nie toelaat dat skuldige amptenare en politici ongestraf wegkom nie. Die Emfuleni-munisipaliteit moet optree en alles in sy vermoë doen om die geld te verhaal.

Kontaknommer: 076 616 2124

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.