Onderwys is 'n sosiale plig wat ten beste op die gemeenskapsvlak bedryf word. Dit was ook die benadering wat gegeld het toe die Skolewet van 1996 die onderskeid tussen openbare – en onafhanklike skole getref het, in stede daarvan om die onderskeid tussen "staatskole" en "privaatskole" te tref. In die werklikheid het die staat egter toenemend beheer oor onderwys geneem en dit wat inhoud en aanbieding betref, gesentraliseer.
Sentralisasie is deur openbare skole aanvaar, omdat dit met befondsing saamgaan. Geleidelike wegkalwing van gemeenskappe se beheer oor onderwys, was geleidelik genoeg om agterdog te beperk.
Covid-19 en die gepaardgaande grendelstaat het nou bewys dat hierdie prysgawe van gesag aan die staat teen 'n geweldige prys gekom het. Skoolgemeenskappe van onderwysers, ouers en kinders wat geen moeite ontsien het om vir heropening gereed te wees nie, moet vir nog 'n week gesluit bly. Die rede is dat daar skole is wat glad nie gereed is nie.
Die nie-gereedheid van sommige skole, kom nie as 'n verrassing nie. Die VF Plus het reeds tevore daarop gewys dat die departement impliseer dat die wonderwerk van voldoende geriewe, vervoer en personeel, skielik gaan geskied, hoewel dit vir 25 jaar nie moontlik was nie.
Minister Angie Motshekga moes in die afgelope perskonferensies erken dat klein, onafhanklike skole, sowel as tuisskole, beter voorbereid is om die huidige krisis te bowe te kom, as groot openbare skole.
Gemeenskappe behoort onderwys nou terug te neem. Openbare skole wat in 'n posisie daarvoor is, moet toegelaat word om onafhanklike skole te word. Subsidies behoort nie daaronder te ly nie, maar besluitneming moet afgewentel word. Verder behoort onafhanklike onderwys as 'n permanente en gewaardeerde deel van die onderwystoneel te word. Sport en ander buitemuurse bedrywighede kan ook binne gemeenskapsverband, onafhanklik van die staat se onderwyssektor aangebied word.
Kontaknommer: 074 166 5540