Nuwe denke oor die wesenlike gevaar van plaasaanvalle is nodig in die Wes-Kaap waar dié gewelddadige misdaadverskynsel nog nie werklik so alledaags is soos in ander dele van die land nie.
Groot paraatheid en voorbereiding sal help voorkom dat plaasaanvalle ‘n gewoonte-misdaad in dié provinsie raak.
In die jongste voorval is vrou van 69 Donderdagoggend op die plaas Vergesig op die R101 tussen die Paarl en Franschhoek aangeval en ernstig beseer.
Volgens beskikbare inligting was sy alleen tuis toe drie mans in ‘n voertuig by die plaashuis opgedaag het onder die voorwendsel dat hulle skape wil koop.
Hulle het haar daarna oorval, vasgebind en ernstig aangerand. Hulle het aangedring op geld en vuurwapens en het onder meer ‘n kluis in die huis oopgebreek.
Die VF Plus betreur die voorval en wens die beseerde ‘n spoedige herstel toe. Dit is belangrik dat die polisie vinnig ‘n deurbraak maak in hul ondersoek en die skuldiges agter tralies plaas waar hulle hoort.


