Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Gevra: Polities belangrike naskoolse onderriginstellings wat uitdrukking aan gemeenskappe gee

(Parlementêre begrotingsdebat: Departement van hoër onderwys en opleiding)

In die begrotingsdebat oor hoër onderwys het die VF Plus vandag op die diepliggende verskille oor die rol van naskoolse onderwys gewys.

Sienings van die staat bepaal ook sienings van alle vlakke van onderwys.

In Suid-Afrika heers 'n sekere soort totalitêre siening, wat daarop neerkom dat slegs individue en die staat self polities betekenisvol is. Daarteenoor staan die siening dat die samelewing uit 'n bykans oneindige aantal instellings van politieke betekenis bestaan, waarin gemeenskappe uitdrukking vind. Die staat is maar een daarvan, hoewel die grootste.

Tradisioneel is universiteite juis sulke instellings van politieke betekenis. 'n Hele gemeenskap van studente, dosente, beursgewers, donateurs en oud-studente groei rondom elke universiteit en dra by tot die verskeidenheid wat elke staat behoort te kenmerk.

Die huidige regering het hierdie verskeidenheid bewustelik verskraal deur universiteite wat honderde kilometers van mekaar lê, saam te smelt. Deur boonop daarop aan te dring dat elke kampus die hele land se bevolking weerspieël, word gepoog om die unieke aard van instellings te smoor.

Tegniese kolleges het tradisioneel nie so 'n sterk ondersteunende gemeenskap as universiteite nie. Selfs gewone skole, wat 'n vorm van politieke uitdrukking aan gemeenskappe deur skoolbeheerliggame gee, staan sterker as die sogenaamde TVET-kolleges. Hierdie instellings ontwikkel nie 'n institusionele kultuur nie, maar is bloot 'n versameling van klaskamers en werkswinkels.

Die staat gaan dus doelgerig te werk om naskoolse onderwysinstellings te skep wat leermateriaal as neutrale instrumente tot die diens van die ekonomie en staat opbou.

Die probleem is dat hierdie gedepolitiseerde instellings nie werk nie – of wanneer dit werk is dit in weerwil van die steriliseringsproses, nie as gevolg daarvan nie. Gevestigde universiteite weerspieël dalk min van wat dit tevore was, maar tog wek dit nog geesdrif en selfs offervaardigheid. Die momentum is eenvoudig nog nie geabsorbeer nie.

Dit is waarom instellings soos Sol-Tech en Akademia kan regkry wat vir die departement met dieselfde begroting onmoontlik sou wees. Dit is die uitdrukking van gemeenskappe wat rondom "hulle eie" instellings byeenkom, of hulle direkte bande daarmee het, of nie. Dit word instellings wat nie net onderwys en opleiding bied nie, maar ook opvoeding en betekenis vir 'n hele gemeenskap.

Wat die staat in die plek daarvan aanbied, is 'n onvolhoubare studentefinansieringskema, universiteite wat kort-kort onder administrasie geplaas word, studente wat infrastruktuur afbrand, TVET-kolleges wat net nooit heeltemal regkom nie, kortom 'n groot, lomp stelsel waar werklike opvoeding, opleiding en betekenisvolle leer meer na newe-produkte lyk, as na die eintlike doel. Maar ten minste dien dit die staat.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.