Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Gesprek met minister oor Derby-Lewis en mediese parool

Dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, het oor die naweek ’n lang en indringende gesprek met
mnr. Sibusiso Ndebele, Minister van Korrektiewe Dienste, gehad oor die posisie van Clive Derby-Lewis. Die gesprek het oor Derby-Lewis se mediese toestand en veiligheid in die tronk gegaan.

Derby-Lewis is 78 jaar oud, het kanker en voldoen reeds etlike jare aan al die vereistes vir parool.
Hy is die afgelope tyd twee keer in die tronk aangeval. Die eerste keer is sy arm gebreek en die tweede keer het slegs ’n noodoperasie hom gered nadat bloeding in sy longe na die aanval hom byna versmoor het.

Alle aanduidings is dat die kanker ook nou na Derby-Lewis se bors versprei het. As hierdie geval
met ’n gholf-spelende Schabir Shaik en ’n “shopping” Jackie Selebi vergelyk word, skreeu alles van dubbele standaarde, volgens Mulder.

“Dit gaan lankal nie meer oor die misdaad waarvoor Derby-Lewis gestraf is nie, ook nie oor politiek
of ’n verkiesing nie, maar oor menslikheid teenoor ’n sieklike bejaarde. Sekerlik kan die Departement van Korrektiewe Dienste op hierdie tydstip weer kyk tot watter mate Derby-Lewis aan die vereistes van mediese parool voldoen,” het dr. Mulder gesê.

Dr. Mulder het vroeër vanjaar die saak ook met president Zuma bespreek, maar tot nou toe was daar
geen vordering daarmee nie.

Derby-Lewis is tans in die hospitaal waar hy aansterk na ’n noodoperasie.

“Kan die Departement van Korrektiewe Dienste sy veiligheid waarborg en voorkom dat hy vir ’n derde
keer aangeval word wanneer hy na sy herstel in die hospitaal na die tronk terugkeer?” het Mulder gevra.

  

Kontaknommers: 082 674 6670 / 083 419 5403

 

 

 

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.