fbpx
Vryheidsfront Plus

Erfenismaand: Respek is die vermiste bestanddeel in Suid-Afrika se kulturele potjie

(Debat in parlement: Erfenismaand – Verenig in diversiteit en ryk kultuurgeskiedenis op pad na ‘n nie-rassige, nie-seksistiese, verenigde en vooruitstrewende demokrasie)

Suid-Afrika het ‘n diverse gemeenskap van vier hoof-etniese groepe, 58,4 miljoen mense, elf amptelike tale en tien dominante geloofsgroepe wie se gesamentlike strewe oorlewing is.

Dit is egter nie moontlik sonder die belangrikste bestanddeel om ‘n sukses van hierdie kulturele hutspot te maak nie, en dit is respek. Respek vir jouself, maar ook vir mekaar op al hierdie terreine.

Kultuur is die spieël van ‘n nasie. In hierdie spieël sien ek ’n trotse Afrikanervolk, diep gewortel in Afrika, trots op wie en wat ons is, trots op ons kultuur en ons taal.

Ek is trots daarop om ‘n deel van hierdie groep mense te wees wat Suid-Afrika ontwikkel het in ‘n veilige hawe vir al sy inwoners.

Watter taal kan die kreun van die rooi geroeste windpomp op die yl vlakte beter beskryf soos dit moeisaam, verwese, sy angel diep in moederaarde se donker skatkamer steek, om getrou, gedwee, teen die tempo wat die wind bepaal, soet lewegewende water na die oppervlak trek om skurf-gekraakte dors te les?

In die spieël sien ek voorouers wat ons geleer het om hulpvaardig en hoflik te wees, om te beplan, te bou, en vas te hou aan ons geloof. Om trots te wees op wie en wat ons is.

Waarom wil die regering dan hierdie kosbare kultuurskat van sekere volke vernietig? Is dit straks omdat daar ‘n ander kultuur vaardig is? Een van selfgeregtigheid, jaloesie, haat en wraak teenoor ander?
Wanneer jy voortdurend met jaloerse oë na ‘n ander se prestasies staar, sal jy altyd in hul skadu staan met groeiende afguns sonder om self ‘n tree vorentoe te beweeg.

Die regering sal nie daarin slaag om die Afrikaner van sy kultuur te ontneem nie. Nie met wetgewing nie en nie deur meerderheidsdruk nie. Dit bruis te trots deur ons are.

Hoe meer druk die ANC uitoefen, hoe hoër sal die vlam van motivering, sukses en durf in die Afrikaner brand.

Vir die ANC om ‘n debat te voer oor kultuurregte en voor te gee dat alle volkere se regte ewe belangrik is, is niks anders nie as ‘n witgepleisterde graf. Al die uitsluitende wette, taalvertrapping en beleid soos onteiening sonder vergoeding, getuig daarvan.

Die VF Plus dring aan op gelyke geleenthede, gelyke bevordering en gelyke beskerming vir alle kulture. Daarsonder is kultuurregte in Suid-Afrika net leë woorde.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.