Elke moord in Suid-Afrika is een moord te veel, maar veral plaasmoorde raak almal in Suid-Afrika direk omdat dit voedselsekerheid in die gedrang bring, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Dr. Groenewald het vandag met die parlementêre debat oor die euwel van moord wat alle Suid-Afrikaners daagliks raak, gesê die moordsyfer van die wêreld is 6,4 per 100 000 van die bevolking. In Suid-Afrika is die syfer 34,3 per 100 000.
“Die kans om in Suid-Afrika vermoor te word, is sowat vyf keer groter as die wêreldgemiddeld. Wat die VF Plus aanbetref, is elke moord in die land een moord te veel.
“In die geval van trio-misdade wat insluit motorkapings, rooftogte by woonhuise en rooftogte by sakepersele, sien ons dit het nou vir vyf jaar agtereenvolgens toegeneem. Motorkapings is met 77,5% op, rooftogte by woonhuise met 33% en rooftogte by sakepersele met 43%. Dit is ‘n gewelddadige land waarin ons bly.
“Ek wil egter die klem op plaasmoorde plaas omdat dit elkeen in die land raak. Of jy nou wit, swart, Indiër of bruin is, jy moet eet. As daar nie meer boere is nie, gaan daar nie meer kos op jou tafel wees nie. Dit raak jou direk met elke boer wat vermoor word.
“Die minister (Fikile Mbalula) sê ek maak politiek van plaasmoorde. Hy is verkeerd. Plaasmoord is ‘n prioriteit in Suid-Afrika want dit moet voedselsekerheid verseker. Die minister kan gerus ‘n voorbeeld neem by die minister van landbou (Senzeni Zokwana) wat gister gevra het mense moet bid vir die boere en hul plaaswerkers.
“In teenstelling daarmee versprei die minister boodskappe op sosiale media wat vals nuus is. Hy versprei foto’s van die ou Suid-Afrikaanse vlag wat vals is en wat niks te doen gehad het met gister nie.
“Gister se opkoms was spontaan. Dit was nie gereël deur enige politieke party nie. Die regering moet daarvan kennis neem, want die boere en die mense van alle rasse sê genoeg is genoeg, en die minister moet ophou om politiek daarvan te maak,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216