Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Departement moet aan portefeuljekomitee ontbinding van Pansat kom verduidelik

Die departement van kuns en kultuur moet by die eerste moontlike geleentheid aan die parlementêre portefeuljekomitee van kuns en kultuur kom verduidelik waarom die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) skielik in die vakansie ontbind is.

Hierdie voorstel van dr. Pieter Mulder, lid van die komitee en leier van die VF Plus, is deur die komitee aanvaar. Aanvanklik was die saak nie op die jaarprogram van die portefeuljekomitee nie. Die program is nou gewysig sodat die departement van kuns en kultuur op 9 Februarie oor hierdie saak voor die portefeuljekomitee kan verskyn.

Artikel 6(5) van die Grondwet bring Pansat tot stand met die doel om alle tale in Suid-Afrika te help ontwikkel en so veeltaligheid te bevorder.

Minister Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, se eensydige besluit om die Pansat-raad te ontbind, was ‘n fout wat die bevordering van veeltaligheid in Suid-Afrika vir jare terugsit.

Suid-Afrika verloor ten minste twee jaar voordat enige nuwe raad die huidige Pansat-probleme sal verstaan en sal kan begin oplos. Daarom was dit 'n fout om die huidige raad, wat reeds vir etlike maande met die Pansat-probleme geworstel het, te ontbind.

Die afgedankte Pansat-raad het uit taal-aktiviste en taalkundiges verteenwoordigend van die verskillende Suid-Afrikaanse tale bestaan. Was hierdie raadslede so onbekwaam as wat die minister beweer of is hulle afgedank omdat hulle nie na die pype van die minister en die departement wou dans nie?

Die afgedankte Pansat-raad het by hulle aanstelling 18 maande gelede ‘n Pansat geërf wat miljoene rand per jaar oorbestee het met 80% van die personeel wat reuse salarisse trek, maar niks met die bevordering van taal te doen het nie.

As die doel is om die huidige raad met regering-napraters te vervang, gaan dit die bevordering van veeltaligheid in Suid-Afrika verder benadeel en nie slaag om die duur en lomp Pansat meer doeltreffend maak nie.

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.