fbpx
Vryheidsfront Plus

Dame van 68 geskiet in Weltevredenpark

Mev. Merle Monnink sterk goed aan nadat sy verlede week in die oprit van haar woning in Weltevredenpark, Roodepoort, geskiet is, sê Franco de Lange, VF Plus-raadslid in die Johannesburg-metroraad.

Hy sê hierdie tipe misdaad word nou ‘n algemene verskynsel in die stad van Johannesburg en die VF Plus waarsku die publiek om waaksaam te wees wanneer hulle hul wonings nader en om te let op vreemde voertuie wat hulle agtervolg of op enige agterdogtige persone naby die ingang van hul wonings.

“Mev. Monnink was na ‘n mediese skandering op pad huis toe en is glo vanaf Wilgeheuwel-hospitaal agtervolg. Met die aankoms by haar woning het die rowers haar motorvenster stukkend geslaan en haar met ‘n vuurwapen gedreig om haar juweliersware te oorhandig.

“Luidens Netwerk24 se berig oor die voorval, het sy dit sonder meer oorhandig maar is nogtans drie keer in die bolyf geskiet. Haar seun het die skote van binne die huis gehoor klap en het uitgehardloop om ondersoek in te stel. Twee skote is ook op hom geskiet, maar hy is nie getref nie.

“Die VF Plus van Johannesburg veroordeel hierdie soort misdaad waar mense by die veiligheid van hul eie wonings aangeval word ten sterkte, maar daar is hopelik lig aan die einde van die tonnel. Die Stad van Johannesburg begroot tans vir ‘n bykomende 1 500 JMPD-amptenare (Johannesburg metropolitaanse polisiediens-amptenare) om ‘n beter diens te kan lewer.

“Met die koalisieregering se onderhandelinge in 2016 was dit een van die VF Plus se voorwaardes dat JMPD-amptenare nie net spoedkaartjies moet uitskryf nie. maar ook aktiewe polisiëringsfunksies in die voorstede moet begin lewer.

“Die VF Plus hoop van harte dat die nuwe toevoeging meer doeltreffende misdaadbekamping in die Stad van Johannesburg tot gevolg sal hê.

“Die VF Plus in Johannesburg wens mev. Monnink alle sterkte toe op haar pad na herstel,” het De Lange gesê.

 

Tel: 082-358-3882

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.