Boetes wat die Stad Kaapstad aan motoriste uitgereik het met die afskop van die Kaap-na-Rio-seiljagwedvaart op 4 Januarie vanjaar, was ongevoelig en kortsigtig en moet teruggetrek word, sê mnr. André Fourie, Vryheidsfront Plus-raadslid vir die Stad Kaapstad.
Volgens mnr. Fourie het die stad misbruik gemaak van ‘n belangwekkende internasionale sportgebeurtenis wat duisende belangstellendes en toeriste gelok het, om parkeerkaartjies van R300 elk uit te reik aan veral motoriste wat teen Vlaeberg geparkeer het om die wegspring van die wedvaart te aanskou.
In ‘n brief met vrae wat op ‘n raadsvergadering later vandeesmaand aan die burgemeester van Kaapstad, me. Patricia de Lille, oorhandig gaan word, vra mnr. Fourie onder meer of die burgemeester bewus was van die groot aantal binnelandse- en buitelandse toeriste wat die geleentheid bygewoon het.
Hy vra ook of sy daarvan bewus was dat daar, veral teen Vlaeberg, geen alternatiewe parkeerplek vir die toeskouers was nie.
“Is sy bewus van die teleurstelling by honderde motoriste by die uitreik van die boetes, asook ‘n verdere boete van R300 aan diegene wat nie dadelik hul voertuie verwyder het nie?
“Dink die burgemeester werklik hierdie onbedagsame aksie wat honderde besoekers se entoesiasme en vreugde bederf het en hulle ontneem het van die ervaring om die seiljagvaart se vertrek volledig waar te neem en te geniet, was in belang van toerisme in Kaapstad?
“Die VF Plus dring daarop aan dat sy hierdie boetes kanselleer en diegene wat reeds betaal het, vergoed as ‘n daad van welwillendheid in belang van toerisme in Kaapstad,” sê mnr. Fourie.
Kontaknommer: 083 441 9262