Die aansuiweringsbegroting wat in Junie in die parlement ter tafel gelê is deur die minister van finansies, Tito Mboweni, het ‘n reuse tekort aan belastinginvordering getoon weens die Covid-19-inperking. Die gevolglike inkrimping in die ekonomie het daartoe gelei dat ondernemings en die publiek nie ‘n inkomste kon verdien nie en daarom nie belasting kon betaal nie.
Die hersiene belastingwette wat die minister in Februarie aangekondig het en wat onlangs vir openbare insette gepubliseer is, maak onder meer voorsiening vir verhoogde aksynsbelasting op tabak- en alkoholprodukte. Dit is uiters ironies, want solank die verbod op die verkoop van hierdie produkte steeds bestaan, kan die staat nie hierdie verhoogde aksynsbelasting invorder nie.
Die verbod kos die staat reeds sowat R35 miljoen per dag aan belasting, oftewel R3 miljard per maand, en verdiep sodoende die belasting-invorderingskrisis wat die land in die gesig staar.
Indien die verbod nie in Maart ingestel is nie, sou ‘n beduiende bedrag aan aksynsbelasting die staat toegekom het. Alhoewel die belasting-invorderingskrisis nie heeltemal vermy sou kon word nie, sou die invordering van hierdie belasting die omvang van die tekort aan inkomste aansienlik verminder het.
Suid-Afrika is die enigste land ter wêreld wat ‘n totale verbod op die verkoop van tabak- en alkoholprodukte geplaas het. In talle hofsake is aangevoer dat die rede vir die verbod is om alkoholverwante trauma en asemhalingskomplikasies te verminder om sodoende die druk op hospitale te verminder wat Covid-19-gevalle behandel.
Dit het eenvoudig nie gebeur nie. Dit maak ‘n bespotting van die regering se reaksie op die pandemie en skend mense se reg om self te besluit of hulle tabak- en alkoholprodukte wil gebruik.
Die verbod het ook 'n geweldige impak op lewensbestaan in die waardeketting van die twee sektore. Daar was 'n reuse verlies aan werksgeleenthede weens ‘n verbod wat in die eerste plek nooit ingestel moes gewees het nie.
Hierdie skending van mense se regte moet onmiddellik opgehef word om sommige van die ondernemings en werksgeleenthede wat nog oorbly, te red en die geweldige besnoeiing in dienslewering, wat onvermydelik is weens ‘n tekort aan inkomste, deur belastinginvordering te verlig.
Navrae: 082 674 6670