Die VF Plus verwelkom die erkenning van die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande – al is dit skoorvoetend – dat Afrikaans en Nama inheemse tale is.
Hierdie erkenning volg nadat die ANC se eie regsmening hom volgens berigte van die onhoudbare posisie van sy eie mening ingelig het.
Die omstredenheid volg nadat die beleidsdokument vir hoër onderwys, wat in 2021 in werking getree het, Afrikaans en Nama nie as inheemse tale lys nie.
Dit was 'n verandering nadat opeenvolgende beleidsdokumente sedert 2001 dié tale wel as sodanig erken het.
Te veel moet egter nie van hierdie ommekeer verwag word nie. Al die agteruitgang van Afrikaans as taal van hoër onderwys het plaasgevind terwyl die inheemse status daarvan erken is.
Sedert die eerste Witskrif oor Hoër Onderwys aan die einde van die negentigerjare, is die regering se siening dat Afrikaans en Engels in die vorige bedeling bevoordeel is.
Engels as internasionale akademiese taal bly onaangeraak, maar Afrikaans moet eers terugstaan sodat ander inheemse tale kan inhaal.
Sedertdien was die VF Plus se standpunt deurlopend dat Afrikaans ten gunste van Engels benadeel word, sonder wesenlike vooruitgang vir ander inheemse tale.
Die Anglisering van hoër onderwys in Suid-Afrika spoed voort, alhoewel lippediens periodiek aan veeltaligheid betoon word.
Die sentrale dilemma is dat daar ‘n sterk aanvraag vir hoër onderwys in Afrikaans is, terwyl moedertaalsprekers van ander inheemse tale Engels verkies.
Afrikaans moet dus wag totdat tale waarvoor die behoefte byna nie op hoër onderwysvlak bestaan nie, inhaal.
Om Afrikaans ná 'n jaar weer as inheemse taal te erken, is simbolies belangrik, maar gaan die taal nie red nie. Al wat gaan help, is as Afrikaanssprekendes die ruimtes vir Afrikaanse hoër onderwys wat wel bestaan, aangryp.
Afrikaans is uiteindelik nie in die hande van die ANC nie, maar van Afrikaanssprekendes self.