Die feit dat Malusi Gigaba bedank het, mag nie dien as vrypas teen strafregtelike vervolging vir sy optrede van meineed en beweerde betrokkenheid by staatskaping nie.
Gigaba het vandag bedank nadat hy onlangs nog gesê het hy sal nie self gaan nie, maar dat hy dit in president Cyril Ramaphosa se hande sal laat om oor sy toekoms te besluit.
Dié verwikkeling bied ‘n welkome uitkoms vir pres. Ramaphosa, maar dit verander niks aan die saak dat die president nie bereid was om ‘n minister af te dank wat volgens die Openbare Beskermer (OB) doelbewus onder eed in die Hoogeregshof gejok het nie.
Hy was nie eens bereid om dissiplinêre stappe teen Gigaba te neem nie en het hom na sy verkiesing as president in sy kabinet aangestel. Dit is benewens die wolk van betrokkenheid by staatskaping en die noue verhouding met die Guptas wat oor Gigaba se kop gehang het.
President Ramaphosa kan nou wys dat hy bereid is om daadwerklik op te tree deur van Bathabile Dlamini ontslae te raak. Ook in haar geval het die Grondwethof bevind dat van haar verklarings voor die hof vals was en dat sy valse mondelinge getuienis voor die Sassa-kommissie afgelê het.
Alhoewel dit duidelik is dat Gigaba eers geloop het na groot openbare druk op hom, verwelkom die VF Plus steeds die feit dat hy soos Nhanhla Nene bereid was om self in sy swaard te val.
Dit sal hopelik die druk vergroot op ander amptenare wat by staatskaping betrokke was, om die voorbeeld te volg.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216