fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC-regering besig om op tipies kommunistiese manier totale beheer oor universiteite te neem

Feitlik alles waarin die ANC-regering ‘n aandeel het, is ‘n klaaglike mislukking, en daarom is die staat se poging om totale mag oor universiteite in Suid-Afrika te kry, uiters sinister en kommerwekkend, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor hoër onderwys.

Adv. Alberts sê die regering se pogings om universiteite se outonomie totaal deur wetgewing te vernietig, herinner aan die gebeure in China in onlangse jare waar die staat beheer oor universiteite geneem het en waar dit in lyn met regeringsbeleid moes kom om te oorleef.

Universiteite is vir alle praktiese doeleindes gedwing om verlegstukke van die regering te raak en onderrig word deur regeringsbeleid gerig. Adv. Alberts sê dit is presies wat tans besig is om in Suid-Afrika te gebeur.

Hierdie week het die portefeuljekomitee oor hoër onderwys ’n wetsontwerp aanvaar ingevolge waarvan die minister van hoër onderwys transformasiedoelwitte vir universiteite se inskrywings mag vasstel. Staatsubsidies kan weerhou word indien dié rasseteikens of kwotas nie nagekom word nie.

Die wetsontwerp gee aan die minister magte om beleid te bepaal wat toepaslik is op hoër onderwysinstellings. Dit sluit taalbeleid en transformasiedoelwitte in.

“Wat hier besig is om te gebeur, is uiters kommerwekkend. Universiteite is veronderstel om onafhanklike instellings te wees waar vrye intellektuele denke en internasionale standaarde die maatstaf moet wees.

“In die plek daarvan skep die regering nou wette wat hulle alle mag en beheer oor die instellings gaan gee.

“Tot nou toe is hierdie sinistere skuiwe feitlik sonder enige teenstand uitgevoer aangesien ‘n groot deel van die intellektuele dampkring by instellings van hoër onderwys maar al te begerig was om ter wille van politieke gedienstigheid die knie voor transformasie te buig.

“Wanneer hulle wakker skrik, sal hulle bes moontlik agterkom dat hulle niks anders geword het nie as pionne wat deur ‘n mislukte regering misbuik word,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.