(Parlementêre begrotingsdebat: Internasionale betrekkinge en samewerking)
Die ANC-regering is besig om Suid-Afrika toenemend te isoleer met ‘n buitelandse beleid waarin vasgekleef word aan die ANC se ideologiese struggle-verlede.
Wat die Midde-Ooste aanbetref, het die 2011-Witskrif met die tema: “Die skep van ’n beter wêreld deur die diplomasie van Ubuntu’’ onderneem dat die komplekse streeksdinamika in dié gebied voorrang sou geniet in Suid-Afrika se beleid. Dit het nie gebeur nie.
Tydens die bewindstydperk van president Nelson Mandela is ’n neutrale posisie oor dié situasie aanbeveel. Dit het verander namate die ANC sy ideologiese wurggreep op buitelandse beleid verstewig het.
Daar is algaande wegbeweeg van ’n beleid met menseregte voorop gestel na een waar die ANC se struggle-vennote voorrang begin geniet het – mense soos Fidel Castro, Yasser Arafat, Muammar Gaddafi en ander.
Suid-Afrika se voortrekking van Palestina het intussen irrelevant geraak.
Die wêreld het aanbeweeg van ’n simplistiese tweestaat-oplossing waar Palestina net gesien is as slagoffer en Israel die aggressor.
Die Abraham-akkoorde wat op 13 Augustus 2020 tussen Israel, die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), Amerika en Bahrein onderteken is, was aanduidend van hierdie nuwe gesindheid.
Dit het dit duidelik gemaak dat die Arabiese wêreld aanbeweeg het verby Palestina en die konflikte waarby dit hulle betrek het.
Die Suid-Afrikaanse regering het daarop gereageer deur met “kommer” kennis te neem van die beter verhoudinge tussen Israel en die VAE.
Die opvatting in sommige kringe dat Suid-Afrika as bemiddelaar in internasionale dispute kan optree, is duidelik ’n fantasie van mense wat steeds glo die regering beklee die morele hoë grond ná die skikking van 1994.
Hierdie morele kapitaal is verkwansel deur gebeure soos dié in November 2021 toe die regering die pas verkose Mej. Suid-Afrika, Lalela Mswane, wou verbied om aan die Mej. Heelal-kompetisie in Israel te gaan deelneem.
Watter ander regering sou in ’n openbare onderonsie met sy eie skoonheidskoningin betrokke raak en dan boonop die geveg verloor? Om sout in die wonde te vryf, het mej. Mswane die derde plek verower.
Intussen het Israel ’n ontmoeting gereël met die buitelandse ministers van die Arabiese Liga wat selfs deur hul Amerikaanse eweknie bygewoon is.
Die Palestyne het gekla dat die ontmoeting ’n skerp aanval op hulle was. Niemand het hulle hieraan gesteur nie en die deelnemers het inteendeel besluit om dit ’n gereelde instelling te maak.
Israel se BBP per capita oortref reeds dié van die Europese Unie (EU) wat van hom verreweg die sterkste en mees suksesvolle land in die Midde-ooste maak.
Neem die Suid-Afrikaanse regering enigsins hiervan kennis?
Die ANC het ’n reuse fout begaan deur toe te laat dat die BDS sy buitelandse beleid teenoor Israel bepaal.
Dit is reeds in stryd met die besluit van die Afrika-Unie om waarnemerstatus aan Israel toe te ken ongeag die besware van Suid-Afrika.
In die proses verf die ANC-regering homself al hoe meer alleen vas in ’n hoek.
Oor twee jaar sal Suid-Afrika onder ’n multiparty-koalisieregering, weer sy regmatige plek op die internasionale verhoog inneem. Die land en sy mense verdien beter as die ANC.