"Die effektiewe en ewewigtige administrasie van justisie is ‘n belangrike onderdeel van enige moderne demokrasie. Sonder dit kan die staat nie die reg opeis om orde te handhaaf nie en is die staat se monopolie op geweld in reaksie op misdadige optrede in die gedrang," het adv Anton Alberts, VF Plus vooorsitter en parlementêre woordvoerder vir Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling Woensdag tydens dié departement se begrotingsdebat gesê.
"Daar word met kommer kennis geneem van ‘n groeiende afstand tussen die groter samelewing en die staat in hierdie verband. Die gemeenskap neem toenemend die reg in eie hande in ‘n vertoon van wantroue in die strafregstelsel.
"Dit hou ongetwyfeld ook verband met die lae skuldigbevindingsyfer in strafsake.
"Navorsing wat die ekonoom Mike Schüssler gedoen het aan die hand van president Cyril Ramaphosa se ontwikkelingsaanwysers, is insiggewend. Hy het bevind dat die veroordelingsyfer van alle misdade die afgelope tien jaar net 6% is. Terselfdertyd word misdaad al hoe minder aangemeld.
Volgens Schüssler vorder net die helfte van aangemelde misdade tot op die hofrol. Dit beteken dat die gehalte van ondersoeke ook afneem. Gegewe hierdie situasie kan ‘n mens verstaan waarom vigilante-geregtigheid – alhoewel dit in beginsel verkeerd is – toenemend voorkom en waarom private sekuriteitsfirmas so sterk in die middelklas groei.
"Dit is ironies dat die private sektor 'n rol in die gemeenskap oorneem wat die staat se plig is. Dit skep ‘n gevaarlike omgewing en moet dringende aandag kry.
"Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) moet ook dringend reggeruk word. Daar is 'n geldige siening dat die NVG selektief vervolg en dat sommige mense immuun is teen vervolging. Waarom het dit byvoorbeeld so lank geneem om op te tree op verskillende aanklagte van korrupsie teen oud-president Jacob Zuma en die EFF-leier Julius Malema?
"Hierdie besluite om nie te vervolg nie en dan weer voort te gaan met vervolging is volkome polities van aard en onderhewig aan wie die president is. Dit moet reggestel word.
"Nog ‘n kwessie wat dringend aandag verdien is die hantering van al die amptelike tale in howe. Ons verstaan dat die hoër howe Afrikaans as taal uitfaseer.
Die probleem is egter nie beperk tot Afrikaans nie, maar raak al die ander amptelike tale buiten Engels," het Alberts gesê.
"Die vraag is hoe ‘n persoon wat Engels glad nie, of net gedeeltelik magtig is, hom- of haarself kan handhaaf in die howe? Daar is geen rede waarom vertalingstegnologie, benewens tolke, nie ingespan kan word om te sorg dat justisie oop is vir alle amptelike taalsprekers nie.
"Daar bestaan ook geen rede waarom uitsprake nie in alle tale beskikbaar gestel kan word nie. Tegnologie laat dit toe. Daar is dus geen rede om nie die reg te laat geskied in al ons land se amptelike tale nie.
"Die minister moet ook aandag gee aan die Ford Kuga-dood van mnr. Reshall Jimmy. Dit is van die uiterste belang dat hierdie geregtelike ondersoek plaasvind voor 'n hooggeregshofregter, en nie voor ‘n landdros nie, sodat daar sekerheid kan kom aangaande die probleme wat nog met hierdie voertuie ervaar word. Hierdie motorreeks kan nog ander lewens kos terwyl die saak sloer.
"Wat haatspraak-wetgewing aanbetref wil die VF Plus die minister waarsku om toe te sien dat dit ewewigtig toegepas moet word. Dit gaan tot groot polarisasie tussen rasse lei indien daar selektief hieroor vervolg word.