Die VF Plus het vandag sterk standpunt ingeneem teen die aanvaarding van die jaarlikse begroting in die munisipale raad van die Ramotshere Moiloa-plaaslike munisipaliteit wat Zeerust en Groot-Marico bedien.
Die begroting maak onder meer voorsiening vir ‘n styging van tot 13,59% in munisipale tariewe. Dit is onaanvaarbaar dat getroue belastingbetalers wat reeds ‘n groot deel van die gemeenskap indirek subsidieer, verder belas word weens swak finansiële bestuur en die munisipaliteit se onvermoë om uitstaande skuld van miljoene rande doeltreffend in te vorder.
Die belastingbetalers van Zeerust en Groot Marico kry jare reeds nie waarde vir hul geld nie en moet voortdurend met die gevolge van wanbestuur in hierdie ANC-beheerde munisipaliteit saamleef.
Infrastruktuur verval weens gebrekkige instandhouding, wanbestuur en korrupsie gedy en ongekwalifiseerde ANC-kaders word in kernposte aangestel ten spyte van wetlike voorskrifte en regulasies.
Die VF Plus sal voortgaan om korrupsie en wanbestuur in die munisipaliteit uit te wys en te beveg.
Die inwoners van Zeerust en Groot Marico verdien ‘n professionele munisipaliteit waar die begroting nie geplunder word nie en behoorlike dienste tot voordeel van die gemeenskap gelewer word.
Kiesers het in die komende plaaslike verkiesing die geleentheid om dit te verwesenlik deur met hul stemme op te staan en saam met die VF Plus te staan om die verval van die munisipaliteit onder ANC-beheer te beëindig.
Navrae: 073 200 3309