Die VF Plus verwelkom die aankondiging dat daar voortaan groter klem gelê gaan word op die ontwikkelinge van die toerisme-sektor.
Die minister van toerisme, Patricia de Lille, het gister gesê die ministerie en die departement van toerisme sal weer fokus op volhoubare groei en ontwikkeling in dié sektor.
Hierdie aankondiging volg nadat sy ook ‘n stokkie gesteek het voor SA Toerisme se roekelose plan om bykans ‘n miljard rand te bestee aan ‘n borgskap vir Tottenham Hotspur, ‘n Britse sokkerklub.
Die borgskap-debakel het ‘n internasionale verleentheid vir die land geskep. Dit het ook die onverantwoordelikheid en wanbestuur in die ministerie van toerisme belig wat oor die laaste jare onder die ANC-regering posgevat het.
Dié projek, asook die rasgegronde implementering van die sogenaamde toerisme-bystandfonds tydens die Covid-19-ramptoestand, het dit duidelik gemaak dat die toerisme ministerie geen begrip het van sy rol, mandaat en verantwoordelikheid teenoor die toerisme-sektor in Suid-Afrika nie.
Dit is belangrik dat diegene verantwoordelik vir die Tottenham Hotspur debakel, asook die wanfunksionering van die ministerie, tot verantwoording geroep word.
Die minister se verbintenis tot die verlening van volhoubare regeringsbystand en -steun aan die sektor, kan toerisme se potensiaal in onder meer werkskepping en ekonomiese groei ontsluit.
Die herstel en ontwikkeling van toerisme-infrastruktuur wat onder die beheer van ANC-beheerde munisipaliteite en provinsiale regerings skouspelagtig verval het, behoort dringend aandag te kry.
Hierdie infrastruktuur is aanvanklik ontwikkel om bekostigbare toerisme-geriewe vir binnelandse toeriste daar te stel.
Dit het ‘n groot bydrae tot die ekonomie gelewer totdat dit bykans vernietig is onder opeenvolgende ANC-administrasies op alle regeringsvlakke.
Die VF Plus het herhaaldelik daarop gewys dat die agteruitgang en verval van die sektor neerkom op verraad teenoor alle Suid-Afrikaners wat swaar ly onder werkloosheid weens ANC-regeringsbeleid.
Die minister het nou die geleentheid om regstelling te bring indien sy haar woord gestand doen.
Die VF Plus sal voortgaan om konstruktiewe bydraes te lewer en volhoubare inisiatiewe te steun om hierdie belangrike ekonomiese sektor te herstel.
Suid-Afrikaners verdien beter as die ANC.