Die VF Plus verwelkom die vreedsame proses in Zimbabwe wat gelei het tot die voormalige president Robert Mugabe se besluit om te bedank. Dit wil voorkom asof hy eindelik besef het wat die ware omvang van die situasie in die land is, sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
Dr. Groenewald sê indien ‘n mens let op die spontane vreugde van die publiek in Zimbabwe is dit duidelik hoe onderdruk hulle onder Mugabe se bewind gevoel het. Hulle het in armoede en hongersnood geleef en moes toesien in watter weelde die Mugabe-gesin en hul meelopers geleef het.
Pres. Jacob Zuma en die ANC moet kennis neem dat kiesers se geduld op ‘n sekere punt wel opraak as hulle die slagoffers is wat in armoede moet leef weens die korrupsie en magsmisbruik van hul regering. Die vreedsame revolusie van Zimbabwe kan maklik oorspoel na SA.
Die VF Plus hoop die demokrasie sal nou seëvier in Zimbabwe en dat Mugabe se opvolger nie ook sy of haar mag sal misbruik om Zimbabwiërs verder te onderdruk nie.
Ons hoop dat die nuwe regering daar gunstige omstandighede sal skep sodat Zimbabwe ekonomies opgebou sal word en dat sy mense in SA sal terugkeer na hul land en dit sal opbou tot ekonomiese voordeel van die hele streek.