Die VF Plus het gestem teen die buitensporige salarisverhoging van R421 100 per jaar vir die pas aangestelde munisipale bestuurder van die Rand West-plaaslike munisipaliteit (Randfontein, Westonaria).
Die ANC-oorheersde raad het egter die aanpassing vir die nuwe munisipale bestuurder, Thabo Collin Ndlovu, goedgekeur. Hy sal nou ‘n jaarlikse salaris van R1 698 573 ontvang omdat hy ‘ontevrede’ was met die salaris wat hom aangebied is.
Altesame 36 raadslede het ten gunste van die besluit gestem en 32 daarteen.
Ndlovu is ‘n vergoedingspakket van R1 277 473 per jaar aangebied gegrond op die uitkoms van sy bevoegdheidsassessering.
Die munisipaliteit gaan nou in oorleg met die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Lebogang Maile, ‘n versoek aan die minister van Cogta, Nkosazana Zuma, rig om ingevolge regulasie 17(4) van plaaslike regeringsregulasies afstand te doen van die voorgeskrewe salarisvereiste met die aanstelling van senior bestuurders.
Die Rand West-munisipaliteit is reeds bankrot. Dorpe, soos in die geval van Rand West-munisipaliteit, is saamgevoeg om een groot munisipaliteite te vorm, maar al wat verbeter is die vergoeding van raadslede en top amptenare.
Die inwoners van Rand West verdien beter as die ANC.