Die VF Plus het met skok kennis geneem dat dagvaardings uitgereik word aan boere wat aan die Swart Maandag-aksie deelgeneem het en is tans in gesprek met die kommissaris- en minister van polisie oor die aangeleentheid, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Een van die boere is 69jarige mnr. Pieter Wagner van Modimolle. Mnr. Wagner is gedagvaar om more (2 November) in die landdroshof op Bela-Bela te verskyn op aanklagte van die reël van ‘n onwettige byeenkoms en ingevolge die padverkeerswet oor die blokkering van ‘n pad.
Dr. Groenewald sê die optrede teen die boere is skokkend en onaanvaarbaar aangesien die aksie landswyd vreedsaam afgeloop het.
“Niemand wat aan die landswye optogte deelgeneem het, het paaie versper met brandende bande en klippe en eiendom verwoes nie. Mense van alle rasse het spontaan aan die veldtog deelgeneem oor ‘n legitieme saak, en dit is die onaanvaarbare hoë voorkoms van plaasmoorde wat op die huidige regering se beurtwag plaasvind.
“Die regering hou met hierdie houding ‘n rooi vlag voor alle vredeliewende landsburgers en die optrede teen boere is ‘n klap in die gesig van die landbougemeenskap in besonder.
“Die VF Plus was onder die indruk dat die aksie die minister se goedkeuring gehad aangesien hy vooraf daarvan bewus was en geen waarskuwing gerig het nie. Dit is duidelik dat hierdie optrede teen die boere die gevolg is van politieke druk op die minister.
“Die VF Plus staan vierkant agter die boere in hierdie aangeleentheid en sal op politieke vlak alles moontlik doen om druk op die regering te plaas om nie voort te gaan met hul optrede teen die boere nie,” sê dr. Groenewald.