"Die VF Plus het in ‘n brief aan die Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, Sam Mashinini, geëis dat sy departement dringend aandag skenk aan die nie-beskikbaarheid van polisievoertuie wat dienste van kritieke belang moet lewer," sê Armand Cloete, VF Plus LP en lid van die NRP.
"Luidens mediaberigte kan beamptes van die Bloemfonteinse blitspatrollie vir die afgelope week nie hul werk doen nie. Die agt voertuie van die blitspatrolliediens word tans herstel en polisiekantore is beveel om hul voertuie aan die blitspatrollie beskikbaar te stel.
"Bloemfonteiners is afhanklik van ‘n effektiewe blitspatrollie. Indien voertuie nie beskikbaar is nie, kan polisiebeamptes nie op noodoproepe reageer nie. Die VF Plus is besorg daaroor dat dit ‘n veiligheidskrisis kan veroorsaak."
"Die VF Plus-leier, dr. Pieter Groenewald, sal ook in die parlementêre portefeuljekomitee vir polisie eis dat die gebrek aan kritiek-belangrike voertuie as ‘n saak van dringendheid behandel word.
"Die VF Plus slaan terug teen misdaad. Die Vrystaat verdien effektiewe polisiëring met hulpbronne wat tot voordeel van al sy inwoners gebruik word," sê Cloete.