Die besluit van pres. Cyril Ramaphosa om die bedanking van die voormalige minister van fianansies, Nhlanhla Nene, te aanvaar, was die regte besluit in belang van Suid-Afrika, en Nene se vervanging moet nou die riglyn wees vir optrede teen ander regeringsamptenare wat by staatskaping geïmpliseer word," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
Die president se vinnige optrede en sy aanstelling van Tito Mboweni behoort belegginsvertroue in Suid-Afrika ‘n hupstoot te gee.
Groenewald sê dit wys pres. Ramaphosa tree beslissend op en hy sal nie toelaat dat die minister van finanasies met ‘n wolk van omstredenheid om hom, voortgaan om beheer oor belastingbetalers se geld te hê nie.
"Nene het nou die voorbeeld gestel om uit eie oorweging te bedank nadat sy bande met die Guptas aan die lig gekom het, en pres. Ramaphosa het korrek opgetree om sy bedanking te aanvaar.
"Dieselfde optrede moet nou geld vir enige ander minister wat betrokke was by staatskaping en die Gutpas. Dit is die enigste manier waarop die president werklik integriteit en vertroue in die regering sal herstel.
"Mboweni is ‘n goeie keuse as nuwe minister van finansies. Hy was vir tien jaar president van die Suid-Afrikaanse Resewerbank en het goeie finansiële ervaring. Hy het voorheen ook in die kabinet gedien as minister van arbeid," sê Groenewald.
Die VF Plus sal Mboweni ‘n billike kans gun om sy staal in dié kritieke portefeulje te toon.
"As minister sal Mboweni bewys moet lewer dat hy die land se belange voorop stel en dat hy verantwoordelik met die belastingbetaler se geld sal omgaan."