Die VF Plus sal die minister van polisie, Bheki Cele, versoek om plaasaanvalle as prioriteitsmisdaad te verklaar.
Cele het in die parlement aangedui dat hy bereid is om met die VF Plus gesprek te voer oor die aangeleentheid in ‘n poging om oplossings te vind.
"Meer landelike hulpbronne is nodig om landelike veiligheid Suid-Afrika te bewerkstellig en as minister van polisie is Cele by magte om plaasaanvalle as priortieitsmisdaad te verklaar en spesialis eenhede op die been te bring om die veiligheid van ons boere te verseker," sê Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
Cele se bereidwilligheid volg op volgehoue druk deur die VF Plus op die regering wat twee weke gelede, na jarelange swye, besluit het om statistiek oor plaasmoorde uit te reik.
Groenewald het aan die minister gesê dit is belangrik om gesprek oor plaasaanvalle te voer in ‘n poging om die statistiek te verfyn en om in besonder nader inligting te bekom oor die slagoffers van plaasaanvalle.
Kundigheid moet nou aangewend word
Groenewald het tydens die begrotingsdebat van die Departement van Polisie en onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat in die parlement gesê die polisie het nou vir die eerste keer gedoen wat die VF Plus al vir byna twee dekades bepleit, en dit is om ‘n kundige polisiekommissaris uit polisie-geledere aan te stel.
"Net so het minister Cele polisie-ervaring na ‘n paar jaar diens as kommissaris. Daar is dus nie meer ‘n verskoning om misdaad nie effektief te bestry nie,
"Die VF Plus wil al die lede van die polisiediens bedank vir die harde werk wat hulle verrig om van Suid-Afrika ‘n beter plek te maak. Hulle werk hard en is pligsgetrou in soms lewensgevaarlike omstandighede om die mense van Suid-Afrika te beveilig. Danksy hul toewyding is Suid-Afrika ‘n beter plek om in te woon.
"Daar moet ook spesiaal dankie gesê word aan die sowat 5 500 lede wat deel is van die polisie se openbare orde-eenheid. Hulle het volgens die polisie se parlementêre portefeuljekomitee opgetree by sowat 14 374 voorvalle van geweld en protesoptrede in die laaste jaar.
"Ek doen ‘n beroep op minister Cele om hard en duidelik met die regering te praat aangesien die openbare oproerigheid weens swak dienslewering voor die regering se deur gelê kan word. Nou moet die polisie die gevolge van ‘n swak regering hanteer.
"Die VF Plus is sedert 1999 op rekord oor sy uitspraak dat die polisiekommissaris nie ‘n politieke aanstelling kan wees nie. Dit moet ‘n ervare, kundige persoon uit die geledere van die polisie wees. Die polisie het dit nou. Genl. Khehla Sitole is ervare, kundig, en hy het andere kundige lede om hom aangestel.
"Dit is ‘n skande om te hoor hoe ‘n adjudant-offisier van ‘n elite-eenheid soos die Valke in hegtenis geneem word en dit blyk dat hy die meesterbrein is agter transito- en ander rooftogte. Hierdie soort kanker besoedel ook die lede wat harde werk doen en dit kan nie toegelaat word nie, het Groenewald gesê.