fbpx
Vryheidsfront Plus

Realiteit oor ekonomie wys Ramaphosa faal Suid-Afrika

"Twee jaar gelede met die aanvang van sy ampstermyn as president van Suid-Afrika, het pres. Cyril Ramaphosa beleidshervorming, ekonomiese groei en werkskepping beloof. Dit is die kern van die land se probleme. Die realiteit wys egter dat die land in hierdie tyd net agteruit gegaan het," sê Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Daar was wel geringe, kosmetiese veranderings soos om klein- en mediumgroot-ondernemings te help en om ‘n maatskappy of onderneming in een dag te laat registreer. Die harde feite skets egter ‘n treurige prentjie oor die land se trae ekonomiese groei.

"Voor pres. Ramaphosa se presidentskap was die land se ekonomiese groeikoers 1,4%. In die eerste jaar daarna het dit verswak tot 0.8%. Vandag het die Reserwebank aangekondig dat die vooruitskatting vir ekonomiese groei vir 2019 slegs 0,4% is.

"Dit is die realiteit, nieteenstaande al die president se beloftes, berade en konferensies oor beleggings en werkskepping. Werkloosheid was twee jaar gelede 26,7%. In die eerste jaar van president Ramaphosa se presidentskap het dit gestyg tot 27,1%. Verlede jaar was dit op tot 29,1%.

"In 2014, voor sy presidentskap, is president Ramaphosa aangewys as hoof van ‘n aksiegroep (war room) by Eskom om die kragvoorsiener se probleme te help oplos

"Die president het dit self ontbind, maar nou vorm hy ‘n nuwe aksiegroep onder adjunk-president David Mabuza. Is dit ‘n erkenning dat die president self gefaal het en dat hy meen die adjunk-president kan moontlik sukses behaal?

 

"Die VF Plus het telkemale in die parlement gewys op die versinsel dat Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) Regstellende Aksie (RA) en onteiening sonder vergoeding swart mense bemagtig."

 

"Een voorbeeld by Eskom wat dien as bewys dat SEB bloot ‘n middel is om die staatskas te stroop, is dat ‘n gewone buislig van sowat 1,2m by ‘n ysterwarewinkel sowat R65 beloop. Eskom koop dieselfde lig deur sy program van SEB aan vir R900. Dit is nie ekonomiese bemagtiging nie, maar ekonomiese diefstal van belastinggeld.

"Die kultuur van nie-betaling van dienste moet omgekeer word en die VF Plus doen ‘n beroep op die regering om weg te doen met onteiening sonder vergoeding en om ‘n moratorium te plaas op SEB en RA totdat die land ‘n groeikoers van 5% het. Die president sal geskok wees om te sien hoe vinnig dié groeikoers dan bereik sal word.

 

"Die VF Plus sê gereeld wittes in die land is bereid om saam te bou en hulle reik die hand na hul landgenote."

 

"Die regering klap hierdie hand van vriendskap weg, en dit word geïllustreer deur die voorbeeld van ‘n dogter van Bellville in die Wes-Kaap wat verlede jaar agt onderskeidings en ‘n gemiddeld van 90% in Matriek behaal het.

"Sy is nie gekeur om medies te studeer nie. Dit wys op die stelsel van onregverdigheid teenoor minderhede wat die ANC-regering tot stand gebring het. Die president skuld hierdie dogter ‘n antwoord.

"Nog ‘n voorbeeld van die minagting vir minderhede is waar die president op Versoeningsdag na die Voortrekkers as indringers verwys het en na die Zoeloes as ‘vryheidsvegters’. Dit is allermins nasiebou, maar ‘n belediging vir wittes waarvan baie afstammelinge van die Voortrekkers is.

"Die Voortrekkers en die Zoeloes het nogtans reeds in 1840 met mekaar versoen deur klippe in die versoeningsgebaar aan mekaar te oorhandig. Dié klippe is steeds in die museum in Pietermaritzburg te sien. Mense met verskillende agtergronde en kulture moet mekaar respekteer. Daar is plek vir die Geloftefees en vir Versoeningsdagvieringe.

"President Ramaphosa is besig om sy eie nalatenskap te beskimmel. Indien hy so aanhou, sal hy onthou word as iemand wat die land vernietig het omdat hy opgetree het in belang van die ANC en nie in belang van die mense van Suid-Afrika nie," sê Groenewald.

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.