"Die Vrystaatse premier, Sisi Notmbela, se plan wat sy Dinsdag tydens die Vrystaatse provinsiale rede gelewer het, bied geen bouplan nie," sê Dévar Smit, VF Plus-LPW in die Vrystaat.
Smit sê Ntombela het ‘n ideale geleentheid om konkrete planne te bied om die Vrystaat weer op te bou, gemis.
"Die premier se verbeeldinglose toespraak spreek nie die probleme van die provinsie aan nie.
"Die VF Plus wil saam met die premier bou aan ‘n beter Vrystaat, maar vind dit kommerwekkend dat Ntombela niks nuut in haar provinsiale rede gebied het nie.
"Ntomebla wil werk skep, maar bied ook geen plan om werk buite die regering en staat te skep nie.
"Sy erken dat Vrystaatse munisipaliteite se swak finansiële prestasie ‘n bron van kommer is en verwys na onmiddellike ingryping, maar maak geen melding van aksies teen korrupte en onbevoegde amptenare en politici nie.
"Solank die premier nie die politieke wil het om op te tree teen diegene wat nie die basiese munisipale dissiplines kan toepas nie, sal munisipaliteite en die provinsie nie groei nie. Die meeste ekonomiese aktiwiteite vind in munisipaliteite plaas en solank dienste nie gelewer word nie, sal die privaatsektor huiwerig bly om in die Vrystaat te belê.
"Industrieë belê in munisipaliteite wat finansieel gesond is en dienste lewer. Sodoende word werk in die privaatsektor geskep en is daar sosio-ekonomiese verligting. Om ‘n lys van onsuksesvolle regeringsprojekte jaar na jaar te bied, bring nie groei nie.
"Intussen moet inwoners van die munisipaliteite van kos voorsien word deur boere en plaaswerkers wie se rol in die ekonomie en voedselsekerheid weereens onderskat is met geen melding van bystand vir die landbousektor en landelike beveiliging nie.
"Waar president Cyril Ramaphosa konkrete ideale vir sy droom vir Suid-Afrika gebied het, het Ntombela vandag ‘n geleentheid gemis om ‘n werkbare plan van aksie vir die Vrystaat se swak dienslewering, swak ekonomie en staatskaping te bied.
"Die Vrystaat is nie net ekonomies-arm nie, maar ook arm aan leierskap in die provinsiale regering wat nie weet hoe om die provinsie te bou nie," sê Smit.