fbpx
Vryheidsfront Plus

NMBM skuif R114 miljoen met aansuiweringsbegroting om vervalle waterinfrastruktuur te herstel

Daar is net sowat 175 dae se water oor in damme wat die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) voorsien en noodplanne hieroor word beraam.

Altesame R114 miljoen van verskeie departemente sal na die metro se waterdiensdirektoraat verskuif word om ‘n gedeelte van die vervalle waterinfrastruktuur te herstel.

Dit kom nadat die NMBM die 2022/2023-aansuiweringsbegroting goedgekeur het. Net die EFF het teen die aansuiweringsbegroting gestem.

Die grootste deel van die fondse vir die waterdiensdirektoraat kom van die departement van veiligheid en sekuriteit (R36,8 miljoen) en die sanitasiedirektoraat (R49,7 miljoen). Dié bykomende befondsing sal veral daarop gemik wees om die watertekort van die voortslepende droogte die hoof te bied.

Volgens die 2021/22-jaarverslag het die metro ‘n instandhoudings- en herstelagterstand van R647 miljoen vir waterinfrastruktuur.

‘n Skerp afname in die invorderingskoers vir waterverbruik, wat in Januarie op 60% gestaan het, het ‘n groot impak op die aansuiweringsbegroting gehad.

In Januarie 2023 was daar 'n agterstand van 8 000 waterlekkasies, maar teen Februarie het dit tot 5 000 gedaal, met slegs 1 971 wat tot op datum nog nie herstel is nie.

Daar word egter daagliks sowat 700 nuwe waterlekkasies aangemeld.

Met die groter begroting wat aan waterdienste toegeken is, sal waterlekkasies vinniger herstel kan word.

Die metroraad het ook ‘n omkeer-aksieplan aanvaar wat ‘n belofte insluit om samewerking met gemeenskappe te verbeter om waterverbruik drasties te verminder en ‘n waterbesparende leefstyl te beoefen.

Die plan word beskou as 'n sterk aanduiding van wat die raad bereid is om te doen om die waterkrisis aan te spreek.

Dit vereis dat alle raadslede moet saamwerk om dié doel te bereik.

Die aksieplan behels ook dat die munisipaliteit saam met die nasionale departement van water en sanitasie en die nasionale tesourie (NT) se stadsondersteuningsprogram werk om die aanvullingsplanne te hersien en 'n veerkragtigheidstrategie te ontwikkel

Die metro sal ook sy boubeleid hersien om waterbesparingsmaatreëls in te sluit en ’n nuwe strategie te skep waarvolgens ontwikkelaars slegs gryswater moet gebruik om te bou en nie munisipale water nie.

Dit is ‘n strawwe aansuiweringsbegroting, maar die koalisieregering, waarvan die VF Plus deel is, sal dit maak werk tot voordeel van al die NMBM se inwoners.

Navrae: 072 582 3461

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.