fbpx
Vryheidsfront Plus

Mopani-distriksmunisipaliteit verkwis geld op hofsaak

Dit is ‘n skande dat die Mopani-distriksmunisipaliteit, wat reeds in ‘n finansiële verknorsing is, nou kosbare fondse vermors op ‘n hofsaak teen die provinsiale regering van Limpopo.

Die provinsiale departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) het kragtens artikel 139(1)(a) van die Grondwet ingegryp om sekere areas van bestuur in die munisipaliteit reg te ruk, onder meer die verskaffing van water aan inwoners.

Alhoewel die VF Plus geen voorstander is van provinsiale ingryping by munisipaliteite nie, is dit weens die distriksmunisipaliteit se versuim om sy waterrekening aan Lepelle North Water (LNW) te vereffen dat die Ba-Phalaborwa-plaaslike munisipaliteit gestraf is met ‘n vermindering in waterverskaffing.

Luidens ‘n skrywe van die direkteur-generaal van die departement water en sanitasie, dr. Sean Phillips, het die Mopani-distriksmunisipaliteit teen 31 Januarie 2023 die LNW R257 miljoen geskuld.

Die VF Plus het op 22 Maart in ‘n dringende skrywe aan Ba-Phalaborwa se waarnemende munisipale bestuurder, dr. Kgoshi Lucas Pilusa, geëis dat daar onmiddellik opgetree moet word om die waterkrisis op te los.

Kort daarna is die watertoevoer herstel.

Uitspraak oor die saak tussen die distriksmunisipaliteit en Cogta sal op 28 Julie in die hooggeregshof gelewer word.

In wie se guns die hof ook al beslis, sal die VF Plus toesien dat die distriksmunisipaliteit en Cogta verantwoordelik optree en inwoners nie benadeel word nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.