Misdaad is lank reeds buite beheer in Suid-Afrika, maar gebeure oor die laaste paar dae laat die gevaarligte helderrooi flikker oor die staat se onvermoë om die publiek te beskerm, "sê dr Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
Hy sê indien misdaad nie nou gestuit word nie, is anargie onafwendbaar.
Die VF Plus doen ‘n dringende beroep op die regering om die gevaartekens nie langer te ignoreer nie.
"Anargie is ‘n woord wat die VF Plus nie ligtelik gebruik nie. Dit is ‘n 'n toestand in ‘n land waarin geen gesag geld nie, waarin niemand reëls of wette gehoorsaam nie en waar die regering geen beheer uitoefen nie. Suid-Afrika stuur in hierdie rigting.
"Die besettings van Kaapse plase, aanvalle op vragmotors landwyd en die vernietiging van treine en treinwaens in die Kaapse Skiereiland kan nie langer as geïsoleerde voorvalle afgemaak word nie. Die feit dat dit ongehinderd voortduur, wys die staat het sy intelligensievermoë ten opsigte van misdaadvoorkoming feitlik totaal verloor.
"Die rede hiervoor is die onbevoegdheid van politieke- en operasionele personeel en die feit dat die vermoë wat wel oorgebly het, oor die laaste jare hoofsaaklik aangewend is in politieke binnegevegte van die ANC en die regering.
"Suid-Afrika betaal nou ‘n duur prys daarvoor en dit kan aansienlik versleg aangesien die ekonomie en misdaad direk gekoppel is. Misdaad striem ekonomiese groei, en ‘n swak ekonomie en gepaardgaande werkloosheid lei tot misdaad," sê Groenewald.
Stefan Smit (62), eienaar van die internasionaal bekende wynlandgoed Louiesenhof buite Stellenbosch, in Sondag by sy huis vermoor. Enkele weke gelede is Tool Wessels op sy plaas net buite Bonnievale vermoor nadat hy wreed gemartel is. verlede Vrydag is Monica (68) en Basil Deniacos (79) in Dealesville vermoor.
"Die VF Plus sal ernstig met die regering oor misdaad in gesprek tree"
Dit is slegs enkele van talle ander moorde en aanvalle regdeur die land oor die laaste weke.
Vyftien plase, waaronder die bekende wynlandgoed D’Aria by Durbanville net buite Kaapstad, moes onlangs die hof nader vir bevele om besetters van hul grond af te kry nadat die BLF briewe versprei het onder werkers waarin mense aangehits is om grond te beset.
Luidens mediaberigte was die BLF-leier, Andile Mngxitama, se naam op die briewe waarin mense aangesê is om ‘landbougrond van wit diewe af te vat’. Selfs nadat ‘n uitsettingsbevel in die D’Aria-geval toegeken is, het Mngxitama glo gesê die BLF en sy volgelinge sal bloot ‘ander plase teiken’.
Sewentien swaar vragmotors is gister aan die brand gesteek in ‘n reeks voorvalle in Gauteng, KwaZulu-Natal, die Wes- en Oos-Kaap en Mpumalanga.
In Kaapstad is twee treine en verskeie waens die naweek aan die brand gesteek. Verlede maand het tien waens op die Kaapstad-stasie uitgebrand met ‘n geraamde skade van R33 miljoen. Dit vorm deel van ‘n reeks aanvalle oor ‘n lang tydperk op die Kaapse Metro-treinstelsel.
In Alexandra, Johannesburg, het inwoners mede-inwoners se huise aan die brand gesteek nadat die Johannesburgse metropolisie onwettige strukture laat afbreek het. Verlede Vrydag is ‘n kliniek in die Strand naby Kaapstad aan die brand gesteek en is totaal verwoes.
Groenewald sê die voorvalle wys dat daar ernstige gebreke in die polisie en die misdaadvoorkomingsorgane van die staat is. Vervolging en strawwe is ontoereikend en dien nie as voldoende afskrikmiddel nie.
"’n Potensieel ewe gevaarlike voortvloeisel van die misdaadsituasie is die rassewrywing wat dit veroorsaak. Die VF Plus sal ernstig met die regering oor misdaad in gesprek tree, en sal aanhou om die internasionale gemeenskap bewus te maak van die ANC se onvermoë om te regeer.
"Daar moet indringend aandag gegee word aan landelike beveiliging en die hulpbronne tot die polisie se beskikking in veral landelike gebiede om misdaadvoorkoming te prioritiseer.
"Die VF Plus doen ‘n beroep op almal in Suid-Afrika om die party se hand te vat en hom te steun in sy stryd teen misdaad wat almal in Suid-Afrika bedreig," sê Groenewald.