Die minister van binnelandse sake, dr. Aaron Motsoaledi, het ’n onaanvaarbare en ontwykende antwoord gegee op ’n parlementêre vraag van die VF Plus oor die ANC se omstrede besoek aan Zimbabwe en of die lede van die afvaardiging aan die inperkingsregulasies voldoen het.
Die afvaardiging het op 8 September vanjaar met ’n Falcon 900-militêre vliegtuig na Zimbabwe gereis.
Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gevra of enige magtiging verleen is aan die passasiers om oor die land se grense te reis, wat hul name is, en hoe daar in terme van die bepalings van Vlak 2-regulasies goedkeuring vir so ‘n reis verleen is indien dit wel gedoen is.
Dr. Motsoaledi het hierop geantwoord dat president Cyril Ramaphosa die aangeleentheid ondersoek en dat die president daarmee sal handel.
Die antwoord is onaanvaarbaar en dr. Motsoaledi ontduik sodoende sy verantwoordelikhede as minister van binnelandse sake. Sy antwoord skep die indruk dat die regulasies nie nagekom is nie en dat hy daarom die vraag ontduik.
Die president het in geen stadium gesê hy gaan navraag doen oor die nakoming van die regering se inperkingsregulasies met betrekking tot die vlug nie. Sy betrokkenheid was oor die koste van die vlug en die verhaling van die geld van die ANC.
Die antwoord beteken die minister kom nie sy verantwoordelikheid teenoor die parlement na nie en ‘n opvolgvraag is aan dr. Motsoaledi gerig waarop weer aangedring word op duidelike antwoorde.
Die saak sal ook verwys word na die speaker van die parlement, Thandi Modise, aangesien ministers nie hul verantwoordelik teenoor die parlement op so ‘n wyse kan ontduik nie.
Die parlement en die mense van Suid-Afrika is geregtig daarop om te weet of die betrokke regulasies nagekom is.
Die regerende party kan nie willens en wetens die regering se eie regulasies verontagsaam maar terselfdertyd daarop aandring dat die publiek dit nougeset moet nakom nie.
Indien die regulasies verbreek is, moet daar gevolge wees en die VF Plus sal nie toelaat dat die minister dit toesmeer nie.