fbpx
Vryheidsfront Plus

Meer mense vermoor met messe en skerp voorwerpe as met vuurwapens

In die afgelope drie finansiële jare (vanaf 2015/16) is meer mense met messe en skerp voorwerpe in Suid-Afrika vermoor as met vuurwapens. Bowendien het die polisie geen rekord oor hoeveel van die betrokke vuurwapens wettig of onwettig was nie.

Dit blyk uit die antwoord van die minister van polisie, Bheki Cele, op ‘n amptelike parlementêre vraag van die VF Plus oor die aangeleentheid.

Op die vraag oor hoeveel mense in die drie finansiële jare met vuurwapens, en hoeveel met messe en skerp voorwerpe vermoor is, het die minister geantwoord dat 20 907 mense met messe en skerp voorwerpe vermoor is, teenoor die 17 914 deur vuurwapens.

In die ooreenstemmende tydperk is 58 025 moorde in Suid-Afrika gepleeg. Die minister kon nie antwoord op die vraag oor hoeveel van die vuurwapens wat by dié misdade betrokke was wettige vuurwapens en hoeveel onwettige vuurwapens was nie. Volgens hom kan die misdaad-administratiewe stelsel nie onderskei tussen wettige en onwettige vuurwapens nie.

"Die verskoning dat die misdaad-administratiewe stelsel nie kan onderskei tussen wettige en onwettige wapens nie is swak en onaanvaarbaar. Die huidige minister en vorige ministers van polisie het deurentyd wettige vuurwapen-eienaars daarvan beskuldig dat hulle die oorsaak is van geweldsmisdaad en dat die meeste moorde met vuurwapens gepleeg word," sê dr Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Nou erken die minister dit is onwaar en hy is die wettige vuurwapen-eienaars van Suid-Afrika ‘n verskoning verskuldig."

"Bheki Cele se onlangse uitspraak by die vernietiging van vuurwapens by ArcelorMittal in Vereeniging dat dit beter sal wees as private burgers eendag geen wapens het nie en slegs die polisie en soldate toegang tot vuurwapens het, is ondeurdag aangesien hy sy uitlating grond op die mite dat meeste moorde gepleeg word met vuurwapens.

"Die minister erken dat onwettige vuurwapens ‘n groot probleem is, maar onwettige wapens neem toe as gevolg van onwettige wapenhandel, diefstal by polisiekantore en ander staatsinstellings. Die minister moet die syfer verskaf oor hoeveel vuurwapens by staatsinstellings, en hoeveel in private besit gesteel en geroof is. Hy moet ook sê hoeveel onwettige wapens daar is deur wapensmokkelary.

"Die jongste misdaadsyfers is ‘n bewys dat die polisie misdaad, en veral geweldsmisdaad, nie onder beheer het nie en dus faal in sy grondwetlike plig om die mense en hulle besittings in Suid-Afrika te beskerm.

"Indien die staat jou nie kan beskerm nie, het jy die volste reg om jou en jou gesin met al die moontlike middels te beskerm, insluitend die besit van ‘n vuurwapen ter selfverdediging. Dit is ook ‘n gemeenregtelike reg wat elkeen het.

"Die ontwapening van die burgery sal misdadigers bevoordeel en misdaad bevorder wat dramaties sal toeneem. Die industrie en veral die wildbedryf in Suid-Afrika wat meer as R10 miljard bydra tot die ekonomie, sal vernietig word.

"Die Vryheidsfront Plus sal alles in sy vermoë doen om teen die moontlike ontwapening van die publiek terug te slaan deur die reg van die gebruik van vuurwapens te verdedig en te verseker," sê Groenewald.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.