fbpx
Vryheidsfront Plus

Gebrekkige samewerking tussen Suid-Afrika en Lesotho oor uitlewering van vermeende plaasaanvallers moet reggestel word

"Die VF Plus neem met kommer kennis van bewerings in die media dat die polisie in Lesotho ‘n vermeende plaasaanvaller vrygelaat het weens swak reëlings aan die kant van die Suid-Afrikaanse polisie," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Die man word verbind met die aanval op mev. Daleen van der Hoven (80) op 3 Julie. Sy is in haar plaashuis by Zastron aangeval en is ernstig beseer toe haar aanvallers haar met ‘n panga teen die kop gekap het.

"Haar vier aanvallers het haar daarna in haar voertuig oor die grens na Lesotho ontvoer waar sy in ysige toestande langs die pad gelaat is.

"Een van die aanvallers is aangekeer, maar is onlangs, na sowat drie weke in aanhouding, deur die Lesotho-polisie vrygelaat. Luidens die berig het die Suid-Afrikaanse polisie die man nie binne die voorgeskrewe tydperk gaan haal óf die nodige dokumente vir sy uitlewering ingehandig nie.

"Indien dit wel waar is, sou dit totaal onaanvaarbaar wees en die VF Plus sal navraag doen oor die aangeleentheid.

"Dit is algemeen bekend dat burgers van Lesotho gereeld in plaasaanvalle betrokke is, veral langs die Vrystaatse grens met dié buurland. Volgens Vrystaat Landbou is meer as vyfhonderd boere die afgelope jare gedwing om hul boerdery te staak in dié grensgebied weens aanhoudende aanvalle.

"In die jongste voorvalle sedert verlede maand, is twee mans van Lesotho op 21 Junie doodgeskiet in ‘n aanval op ‘n bejaarde egpaar in die Tweespruit-distrik en daar was nog aanvalle by Kommissiepoort, Zastron en Boesmanskop. In al die gevalle was bejaardes die teiken.

"Die Suid-Afrikaanse polisie het onlangs wel aangedui dat plaasaanvalle groter aandag gaan geniet. Daar sal in die proses spesiale aandag gegee moet word aan die probleemgebied in die Oos-Vrystaat," sê Groenewald.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.