"Die VF Plus het ‘n ernstige probleem met vandag se besluit van die kabinet om die nasionale ramptoestand te verleng tot middel Julie vanjaar aangesien die parlement nie inspraak in die eensydige besluit van die regering het nie," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"Ingevolge die Nasionale Rampbestuurswet kan ‘n nasionale ramp vir ‘n tydperk van drie maande verklaar word waarna dit op ‘n maand-tot-maand-grondslag deur die betrokke minister verleng kan word, in hierdie geval Nokosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake.
"In die geval van ‘n nasionale noodtoestand bepaal die Grondwet dat die president die parlement moet toestemming vra om die tydperk ná 21 dae verder te verleng. Die regering kan nou, ingevolge die nasionale ramptoestand, doen wat hy wil sonder parlementêre oorsig.
"Dit is vir die VF Plus onaanvaarbaar en vorm tewens deel van die party se huidige hofgeding om die inperking ongrondwetlik te laat verklaar."
"Die Nasionale Rampbestuurswet stel geen verantwoordebaarheid van die betrokke minister voor die parlement nie en die parlement kan daarom nie ‘n oorsigrol speel in terme van besluite wat die minister neem nie.
"Die VF Plus vind dit ook teleurstellend dat die regering besluit het om appèl aan te teken in die De Beer-saak waar die Noord-Gautengse hooggeregshof die inperkingsregulasies as ongeldig verklaar het.
"‘n Verantwoordelike regering sou eerder sy trots in sy sak gesteek het en die 14 dae soos deur die hof bepaal, gebruik het om die betrokke regulasies in lyn te bring met die uitspraak."
"Die VF Plus is oortuig daarvan dat sy saak teen die regering suksesvol sal wees aangesien dit nie in die belang van die land en sy inwoners is dat alle mag en besluitneming by die ANC en sy ministers gesetel lê nie," sê Groenewald.