fbpx
Vryheidsfront Plus

Droogte-ramptoestand verleng – regering moet nou daad by woord voeg

"Aangesien daar nie tydens die droogte-ramptoestand, wat op 4 Maart 2020 aangekondig is, enige hulp aan landbouers gegee is nie, verwelkom die VF Plus die verlenging daarvan," sê Tammy Breedt, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van landbou.

"Dit moet nie verwar word met die nasionale ramptoestand ten opsigte van die Covid-19-pandemie nie. In effek is Suid-Afrika tans in twee amptelike nasionale ramptoestande.

"Die departement van landbou het skriftelik op ‘n vraag geantwoord dat sowat R139 miljoen vir die verligting van droogte goedgekeur is. Dit is egter ‘n druppel aan die emmer, aangesien daar ‘n behoefte van sowat R1 miljard ontstaan het as gevolg van langdurige droogtetoestande.

 

"Dit is betreurenswaardig dat boere nie verligting in die eerste drie maande van die droogtetoestand ontvang het nie as gevolg van wat die departement beskryf as vertraging weens die uitbreking van die Covid-19-pandemie."

 

"Die VF Plus verwelkom die regering se erkenning dat boere bygestaan moet word in langdurige droogtetoestande, maar is teleurgesteld dat daar nie tot dusver stappe geneem is om die nodige hulp aan boere te verskaf nie.

"In sekere gevalle waarvan die VF Plus bewus is, is droogtehulp wat in 2013 aangevra en goedgekeur is, eers in 2018 uitbetaal. In die belang van al die boere van Suid-Afrika en van voedselsekerheid, kan hierdie patroon nie herhaal word nie.

 

"Indien die regering ernstig is oor landbou, behoort hy meer fondse beskikbaar te stel in die komende begroting van 24 Junie en dit moet daarna daadwerklik bestee word."

 

"Suid-Afrika kan nie bekostig om nog regeringsprojekte te laat sloer weens Covid-19 nie," sê Breedt.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.