"Die snel-stygende brandstofprys is ‘n ernstige krisis vir die land, en nog meer so vir die ANC-regering aangesien dit hom in ‘n situasie geplaas het wat sy eie maaksel is en waaruit hy nie kan ontsnap nie.
"Die wisselkoers is ‘n wesenlike probleem en is ‘n aanduiding van die markte se siening van ‘n land se ekonomie," het dr Corné Mulder Woensdag tydens 'n debat in die parlement gesê.
Toe voormalige president Jacob Zuma in 2009 verkies is, was die wisselkoers teenoor die dollar R7,21. Vanaand is dit R14,97. Dit het dus met meer as die helfte verswak. R1,37 is nodig om ‘n enkele Botswana-Pula te koop.
"In die aangesig van hierdie krisis kom daar totaal onsinnige en lighartige uitsprake oor ‘n krisissituasie van ‘n ANC-minister, in hierdie geval die minister van kommunikasie, Nomvula Mokonyane, wat sê as die Rand val moet dit net weer opgetel word.
"Die ironie hierin, en die ANC se groot probleem is dat sowat 40 persent van die huidige petrolprys belastings is. ‘n Begrote R118 miljard word hierdie jaar van hierdie heffing verwag. Die regering kan bloot nie daarsonder funksioneer nie.
"Die rede is eenvoudig: In die Mandela-era, is miljoene rande gesteel. In die Mbeki-era is honderd miljoene rande gesteel. In die Zuma-era is miljarde gesteel. Dit is die ware rede waarom die land ‘n omvangryke ekonomiese krisis beleef.
"In 2015 het die destydse minister van energie, Tina Joemat-Pettersson, meer as 10 miljoen vate van Suid-Afrika se strategiese oliereserwes verkoop teen die verstommende prys van R28 dollar per vat. Wat het daarvan geword? Is dié transaksie behoorlik ondersoek? Weet die regering presies wat daar gebeur het, of is dit ook net soos in alle ander gevalle onder die mat in gevee?
"Die regering sit magteloos. Hy kan die brandstofheffing nie wegneem nie. Daardie R118 miljard is onontbeerlik, en dit kom uit die sakke van die verbruikers van Suid-Afrika. Die ANC het hierdie krisis geskep.
Die kiesers sal dit onthou wanneer hulle in aanstaande jaar se verkiesing hul kruisies trek," het Groenewald gesê.