Die slagting van onskuldige kinders wat in bendes se kruisvuur beland, het skokkende vlakke bereik en die polisie en plaaslike owerhede kan nie langer net beloftes oor optrede maak terwyl kinders weekliks sterf nie, sê dr. Corné Mulder, leier van de VF Plus in die Wes-Kaap.
Volgens dr. Mulder is daar hierdie jaar – volgens die VF Plus se inligting – reeds meer as 60 kinders gewelddadig in die Kaap dood. ‘n Groot aantal hiervan weens bendegeweld veral op die Kaapse Vlakte.
Die afgelope naweek is Joshem Jacobs (19), ‘n matriekleerling van die Hoërskool Elsiesrivier, dood toe ‘n dwaalkoeël hom in die kop getref het waar hy op die stoep van ‘n skoolmaat se woonstel gestaan het.
Die agtjarige Damian Swart van Scottsdene is die naweek begrawe nadat hy noodlottig beseer is toe ‘n skokgranaat tydens bendegeweld in sy gesig ontplof het.
Die tweejarige Jalin Alexander van Elsiesrivier is hierdie week geopereer nadat sy die naweek in die mond geskiet is tydens bendegevegte. Sy sterk tans in die Rooi Kruis-kinderhospitaal aan.
Dr. Mulder sê die gemeenskap kan nie meer tevrede wees met leë beloftes van optredes, strategieë en aksieplanne waarvan daar niks kom nie.
“Die adjunkminister van polisie het vroeg in September ‘n hoeveelste ‘strategie’ aangekondig om bendegeweld op die Kaapse Vlakte hok te slaan, maar in hierdie stadium wil dit voorkom asof dit, net soos met al die vorige aankondigings, net ‘n leë belofte is.
“Saam met die mense wat onder bendegeweld ly, en al die naasbestaandes en familie van die jong slagoffer, sê die VF Plus nou ook ‘genoeg is genoeg’. Die tyd het aangebreek dat die mense van die Kaap seggenskap oor hul eie sake, belange en veral oor die lewe van hul kinders kry,” sê dr. Mulder.