fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC-regering moet skuld kry vir geldprobleme in hoër onderwys

Daar bestaan nie so iets soos gratis hoër onderwys nie. Daar kan wel ‘n opvatting wees dat dit gratis is as studente nie klasgelde betaal nie, maar dit is nie so nie aangesien iemand eindelik tog moet opdok, en dit is die belastingbetaler, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald sê universiteite is duur, en die ANC-regering is skuldig daaraan aangesien hy die subsidies van universiteite nie behoorlik en tydig aangepas het nie, en daarom sit dié instellings nou met die probleem dat hulle veel meer moet vra om studente te akkommodeer.

Hy sê die regering moet homself vra waarom hy agter geraak het met die subsidies, ook wat die inflasiekoers aanbetref.

“Gratis hoër onderwys is nie haalbaar nie. Selfs ryk ontwikkelde lande kan dit nie bekostig nie. Die VF Plus het nogtans simpatie daarmee dat klasgelde nie onnodig verhoog moet word sodat hoër onderwys onbekostigbaar raak nie. Dit raak ‘n al hoe groter probleem in die land.

“Studente moet die geleentheid gegun word om hulself behoorlik te kwalifiseer. Om die geld hiervoor te bekom, moet ekonomiese groei plaasvind, en hier is onderwys in Suid-Afrika tans ‘n groot remskoen.

“Navorsing toon dat slegs 50% van alle skoolbeginners tot in graad 12 vorder. Daarvan kwalifiseer slegs 12% om universiteit toe te gaan en eindelik is daar slegs 5% van skoolbeginners wat ‘n graad behaal.

“Onder hierdie omstandighede, waar jong mense nie universiteit toe kan gaan nie, en die swak slaagsyfer van dié wat wel gaan, kan die ekonomie nie groei nie, en sal gratis hoër onderwys nie moontlik wees nie,” sê dr. Groenewald.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.