fbpx
Vryheidsfront Plus

Anargie op die N12 ‘n direkte gevolg van leë ANC-beloftes

"Die ANC-kultuur van anargie het weereens tot gevolg gehad dat Suid-Afrikaanse burgers se grondwetlike reg tot vryheid van beweging, persoonlike veiligheid en sekerheid, die afgelope week geskend is met die gewelddadige protesoptrede op die N12 deur Potchefstroom," sê Fanie du Toit, VF Plus-LP in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) vir Noordwes.

Dié roete langs Ikageng, ‘n informele nedersetting by Potchefstroom wat as aorta vir die Noordwes-provinsie se ekonomie dien, was afgesny weens betogings deur inwoners van Ikageng. 

Sedert Maandag 24 Junie 2019, is dié nasionale roete sporadies deur betogers versper met klippe, draad en brandende bande. Die afgelope twee dae is die pad geheel en al ontoeganklik en onskuldige en wetsgehoorsame burgers se voertuie en vragmotors is beskadig.

Die VF Plus het die afgelope week persoonlik ondersoek gaan instel na die situasie waartydens Fanie du Toit, lid van die Nasionale Raad van Provinsie, met klippe bestook is deur betogers wat eenvoudig niemand in hul eiegeregtige vernietigingsdrang ontsien het nie.

Die VF Plus het oor die situasie geskakel met Noordwes se premierskantoor, die LUR vir samewerkende regering, Gordon Kegakilwe, die adjunkkommissaris van polisie en ander rolspelers in ‘n poging om ‘n oplossing te vind. Die burgermeester van die JB Marks-munisipaliteit wat Ikageng inlsuit, Kgotso Khumalo, was nie beskikbaar nie.

Die inwoners van Ikageng is ontevrede oor onder meer dienslewering en behuising.  Die situasie het so plofbaar geraak dat ‘n ANC-raadslid na bewering aangehou is en daar geëis is dat hy bedank. Verskeie paaie in Ikageng is versper en omgedolwe wat dienslewering nou selfs verder bemoeilik.

Kegakilwe en burgemeester Khumalo het gegriefde inwoners gister onder polisiebeskerming probeer toespreek, maar kon nie daarin slaag om die situasie te ontlont nie.

 Die polisie het vroeg Woensdagaand die N12 weer oopgestel vir verkeer,  nadat polisieversterkings langs dié roete en in Ikageng ontplooi is. Oortreders is in hegtenis geneem.

"Suid-Afrika se ekonomie kan nie gyselaar gehou word deur wettelose elemente en misdadigers nie en die polisie moet genadeloos optree teen oortreders wat infrastruktuur beskadig en inbreek maak op die regte van wetsgehoorsame burgers.

"Die regering moet besef die ekonomie kan nie groei met leë beloftes en drome nie, maar slegs in ‘n veilige omgewing waar wet en orde geld," sê Du Toit.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.