“Die aanslag teen Afrikaans deur die regering en sy meelopers soos die vise-rektors by sommige universiteite is kortsigtig en ongrondwetlik en is duidelik ‘n poging om die taal op instellings van hoër onderwys dood te wurg,” het Pieter Groenewald, VF Plus-leier, gesê.
Groenewald het tydens die begrotingsdebat van die departement van hoër onderwys en opleiding Donderdag in die parlement verwys na die Jakes Gerwel-verslag van 2002 oor taalbeleid by instellings van hoër onderwys wat dit duidelik uitgespel het dat daar in Suid-Afrika twee Afrikaanse, of oorwegend Afrikaanse universiteite, moet wees.
“Een in die noorde, en een in die suide van die land.”
"Die felheid en vyandigheid teen Afrikaans by universiteite is ongrondwetlik"
“Suid-Afrika het tans 26 universiteite met 38 kampusse, en ten spyte daarvan dat die land se Grondwet dit in artikel 29 duidelik stel dat Afrikaanssprekendes die reg het om onderwys in hul moedertaal te ontvang, is daar tans ‘n groot aanslag teen die taal,” het Groenewald in die VF Plus se reaksie op die departement se begroting gesê.
“By die Noordwes-universiteit se Potchefstroom-kampus is die vyande van Afrikaans nie eens tevrede met vertaaldienste vir studente wat nie Afrikaans magtig is nie. Die ander twee kampusse van die universiteit is totaal Engels.
“Enkele weke gelede tydens ‘n opedag het die rektor van die Potchefstroom-kampus, prof. Fika Janse van Rensburg, aan ouers gesê die universiteit sal veeltaligheid bevorder. By die regsfakulteit vertel die dekaan egter ‘n ander storie deur te sê in 2020 sal alle klasse slegs in Engels wees.
"Dit mislei die ouers en dien as bewys hoe Afrikaans stadig doodgewurg word op instellings van hoër onderwys. Studente moet ‘n keuse gegun word om te kies in watter taal hulle wil studeer. Daar is wel baie Afrikaanssprekendes wat in hul moedertaal wil studeer.
“Die VF Plus doen ‘n beroep op die minister (Naledi Pandor) om te oorweeg of sekere universiteite nie kampusse kan hê wat wel oorwegend Afrikaans kan wees nie. Die felheid en vyandigheid teen Afrikaans by universiteite is ongrondwetlik, en die minister kan ‘n verskil maak.
“Minister Pandor het op ‘n vraag van die VF Plus oor voorwaardes vir hulp uit die nasionale studente-hulpprogram aangedui dat studiehulp opgeskort gaan word aan studente wat nie hul eerste akademiese jaar op universiteit jaar slaag nie.
“Die VF Plus verwelkom dit aangesien dit onregverdig sou wees dat belastingbetalersgeld vermors word op studente wat nie erns het met hul studies nie,” het Groenewald gesê.