Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus verwelkom terugtrekking van kennisgewing teen Groenkloof-toegangshek

Die VF Plus verwelkom die Tshwane-metroraad se besluit om sy kennisgewing terug te trek waarin geëis is dat die beheerde toegangshek in Bainesstraat, die ingang tot die Groenkloof Village-woongebied, binne drie dae verwyder moes word.

Die party het vroeër sy sterk misnoeë uitgespreek oor die optrede van amptenare wat, te midde van Tshwane se ernstige diensleweringskrisis, hul energie daarop toespits om toegangsbeheer en veiligheidsmaatreëls in woongebiede te teiken eerder as om die stad se werklike probleme aan te pak.

Terwyl inwoners daagliks gebuk gaan onder water- en kragonderbrekings, vervallende infrastruktuur, misdaad en die onvoldoende beveiliging van kritieke munisipale bates, is dit onaanvaarbaar dat die huidige ActionSA/ANC/EFF-koalisie hulpbronne aan sulke optrede bestee.

Die terugtrekking van die kennisgewing is ‘n oorwinning vir die inwoners van Groenkloof, wat vasbeslote was om die metroraad se arbitrêre besluit deur middel van regsaksie te beveg. Dit bewys dat gemeenskappe nie mag swyg wanneer hul veiligheid en regte bedreig word nie.

Die voorval werp egter opnuut lig op die dieper bestuurskrisis in Tshwane.

Die stad word gekenmerk deur ongeërgdheid teenoor inwoners se behoeftes, voortdurende onsekerheid rondom sekuriteitskontrakte en ‘n administrasie wat nie daarin slaag om basiese dienslewering eerste te stel nie.

Tshwane se inwoners verdien ‘n metroregering wat hul veiligheid beskerm, infrastruktuur in stand hou en belastinggeld verantwoordelik bestee.

Dit is tyd vir ‘n nuwe koers vir die hoofstad.

Die VF Plus is oortuig daarvan dat die party op 4 November betekenisvolle steun sal ontvang en sal werk om ‘n koalisie van verantwoordelike en beginselvaste partye tot stand te bring wat Tshwane weer op ‘n pad van stabiliteit, veiligheid en groei kan plaas.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.