Die VF Plus neem met kommer kennis van bewerings dat ’n jaareindfunksie vir senior munisipale amptenare van die Tshwane-metro verlede Vrydag aangebied is, terwyl inwoners regoor die metro steeds daagliks kragonderbrekings, waterprobleme en finansiële druk ervaar.
Volgens inligting tot die party se beskikking, is personeel aangesê om die geselligheid as ’n “korporatiewe waardegedrewe-byeenkoms” te beskryf.
Gegewe die groot hoeveelhede alkohol wat na bewering aan gaste voorsien is, kon die ironie kwalik meer treffend wees. Dit laat die vraag ontstaan of die politieke kultuur van ActionSA, die ANC en die EFF een is waar amptenare fees vier terwyl inwoners in die donker sit en sonder water moet klaarkom.
Terselfdertyd worstel die metro met voortgesette kragonderbrekings, ’n waterkrisis wat tot hospitaliserings gelei het en ’n begroting wat onder druk is.
Sekuriteitskontrakte wat nie hernu is nie, het kritieke infrastruktuur kwesbaar gelaat vir sabotasie en vandalisme. Private sekuriteitsmaatskappye tree intussen dikwels in om substasies en ander infrastruktuur te beskerm – soms sonder vergoeding van die munisipaliteit.
Die VF Plus vind dit onaanvaarbaar dat van inwoners verwag word om verswakkende dienslewering en toenemende finansiële druk te verduur, terwyl daar bewerings is van luukse funksies vir senior amptenare.
Die party het ʼn skrywe aan die stadsbestuurder, Johann Mettler, gerig vir die volle openbaarmaking van:
• Die aard en doel van die geleentheid;
• die totale koste daarvan;
• wie die uitgawe gemagtig het; en
• of enige munisipale fondse daarvoor aangewend is.
Tshwane se inwoners verdien ’n munisipaliteit wat dienslewering en verantwoordelike besteding bo uitspattigheid stel.
Die VF Plus sal voortgaan om hierdie saak te monitor en aanspreeklikheid te eis.


