Die VF Plus steun die petisie wat Solidariteit en die Skole Ondersteuningsentrum (SOS) vandag by die parlement ingehandig het oor Gautengse skoolsubsidies.
In die petisie word die parlement versoek om die Gautengse departement van onderwys se versuim om subsidies aan skole te betaal, te ondersoek en aanbevelings daaroor te maak.
Luidens die petisie het die Gautengse departement nie alleenlik in gebreke gebly om te betaal nie, maar ook skriftelik bevestig dat hy nie oor die fondse beskik om dit te doen nie.
Luidens die petisie sou dit in die private sektor op bankrotskap gedui het, met gepaardgaande optrede. In hierdie geval behoort die nasionale departement daarom in te tree om leerders se belange te beskerm.
Die VF Plus het die petisie saam met parlementêre personeel en ander partye in ontvangs geneem. Dit moet vervolgens in die portefeuljekomitee en die nasionale vergadering behandel word.
Volgens die VF Plus verleen die departement se onvermoë die ideale geleentheid vir kultuurgemeenskappe om beheer oor hul eie onderwys te neem.
Terwyl dit ʼn basiese reg in ʼn multikulturele staat behoort te wees, hou die staat tans nog die leisels styf vas oor ʼn gesentraliseerde onderwysstelsel.. Dit is wel ʼn vermoë wat die staat besig is om te verloor.
Die kulturele regte van gemeenskappe is grootliks die bestaansrede vir die VF Plus. Daarom sal die party hom steeds daarvoor beywer – ook in die onderwys.


