Die Ekurhuleni-metro het eindelik ná druk van die VF Plus en vele klagtes van inwoners begin om die gevaarlike slaggate in belangrike toegangroetes van Brakpan, Benoni en Springs te herstel.
Die herstelwerk in Main Reef en Hospital Road in Benoni het Woensdag begin.
Die VF Plus en plaaslike inwoners het maande lank daarop aangedring dat iets gedoen word aan die haglike toestand van Main Reef Road, Hospital Road en die ingangspad na die Rock Raceway in Brakpan, waar groot gedeeltes van die paaie bykans onbruikbaar geword het.
Ten spyte van talle klagtes is die metro se klagte-aanmeldstelsel gereeld gesluit sonder dat enige werklike herstelwerk plaasgevind het. Dit het groot frustrasie veroorsaak en vrae laat ontstaan oor dienslewering.
In die jongste raadsvergadering het die VF Plus die burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer, Lindiwe Mnguni, gevra oor die instandhoudingsplanne en waarom diensversoeke gesluit word sonder dat die probleme opgelos is.
Mnguni het bevestig dat daar tans slegs tydelike maatreëls in plek is, insluitend waarskuwingstekens en beperkte slaggatherstelwerk. Sy het aangedui dat herstelwerk wel gedoen word deur onder meer die pyp-domkragmetod en dat grondwaterondersoeke gedoen word.
Pyp-domkrag is ‘n metode om ondergrondse infrastruktuur te herstel of te vervang sonder om die padoppervlak volledig oop te breek. Hoewel dit oppervlakversteurings beperk, kan dit steeds veroorsaak dat die pad bo-op verswak, wat bykomende herstelwerk noodsaak.
Volledige rehabilitasie van die paaie sal eers plaasvind nadat hierdie ondergrondse werk afgehandel is, met tydlyne wat nou na die 2027/28-finansiële jaar geskuif is.
Die burgemeesterskomiteelid het ook gebreke in die diensversoekstelsel erken en aangedui dat personeelheropleiding en verbeterde prosesse beplan word.
Hierdie metode om slaggate te herstel is nie ‘n permanente oplossing nie. Die padoppervlak moet in sy geheel vervang word om te voorkom dat nuwe slaggate binnekort weer vorm.
Die VF Plus sal aanhou druk op die departement plaas en volle aanspreeklikheid eis vir die verbintenisse wat in die raadsvergadering gemaak word.


