Voortgesette kragonderbrekings in die Tshwane-metro se wyk 55, wat Kirkney, Zandfontein en Boekenhoutkloof insluit, het die afgelope twee jaar só toegeneem dat inwoners daagliks sonder krag sit.
In baie gevalle duur dit etlike dae voordat die krag herstel word.
Die VF Plus het die onderbrekings herhaaldelik aangemeld en versoekskrifte by die petisiekomitee ingedien waarin die probleem en die dringende behoefte aan opgraderings en instandhouding van die KV33 Swartpruit- en Iscor-substasies, die KV132 Gomsand-substasie en die breër netwerk uitgelig is.
Tog het die elektrisiteitsdepartement versuim om twee beplande vergaderings van die petisiekomitee by te woon, insluitend die mees onlangse sitting op 19 Maart 2026. Hierdie afwesigheid toon ’n blatante minagting vir inwoners en ondermyn die prosesse wat aanspreeklikheid moet verseker.
Inwoners van Wyk 55 is besonder kwesbaar. Baie huishoudings, veral op kleinhoewes en plase, is volkome afhanklik van elektrisiteit vir watervoorsiening deur boorgate en drukpompe, sekuriteitstelsels soos alarms en elektriese heinings, asook basiese daaglikse behoeftes.
Die situasie word vererger deur die totale afwesigheid van munisipale watervoorsiening in die gebied, wat beteken dat elektrisiteit nie ’n gerief is nie, maar ’n noodsaaklikheid vir oorlewing.
Die impak op bejaarde en medies afhanklike inwoners is ’n groot bekommernis. Mense wat op suurstofmasjiene staatmaak, se lewe word direk in gevaar gestel tydens langdurige kragonderbrekings.
Plaaslike ondernemings wat werk aan inwoners verskaf, ly ook onder ernstige operasionele ontwrigtings, wat uiteindelik die lewensbestaan en ekonomiese stabiliteit van die gemeenskap bedreig.
Die VF Plus het in ’n brief aan die stadsbestuurder, Johann Mettler, ’n volledige verslag geëis wat die afwesigheid van die elektrisiteitsdepartement verduidelik en aanspreeklikheid teen die verantwoordelike amptenare verseker.
Verder het die VF Plus ’n dringende ingrypingsvergadering aangevra tussen verteenwoordigers van wyk 55 en die Fortsig-elektrisiteitsdepartement om deurlopende terugvoer aan inwoners te waarborg.
Die VF Plus verwag ’n onmiddellike reaksie van die hoogste gesag binne die Tshwane-metro en sal aanhou om druk uit te oefen totdat tasbare oplossings geïmplementeer en aanspreeklikheid toegepas word.


