Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Owerhede in NMBM verdien lof vir sukses teen ontvoeringsindikaat

Die betrokke owerhede in die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) verdien groot lof en waardering vir die vinnige en doelgerigte optrede wat tot die veilige vrylating van die 73-jarige ontvoeringslagoffer Theresa Minnie gelei het.

In die daaropvolgende operasie is verskeie verdagtes in hegtenis geneem. Hierdie suksesvolle optrede is ’n duidelike bewys dat samewerking tussen verskillende rolspelers noodsaaklik is in die stryd teen georganiseerde misdaad.

Die optrede van die direktoraat vir prioriteitmisdaadondersoeke (Valke), misdaadintelligensie in Port Elizabeth, die polisie se plaaslike misdaadrekordsentrum en ‘n private sekuriteitsmaatskappy, Magma Security and Investigations, verdien spesiale vermelding.

Die VF Plus glo dat hierdie samewerking ’n sterk boodskap stuur aan misdadigers dat sulke dade nie ongestraf sal bly nie.

Die inhegtenisnemings, sowel as die beslaglegging op groot bedrae kontant, vuurwapens en voertuie wat aan die ontvoering gekoppel word, is ’n belangrike en sterk afskrikmiddel vir voornemende misdadigers.

Dit is ‘n oorwinning vir wetstoepassing en bring hoop vir inwoners wat al hoe meer deur misdaad geteister word.

Die VF Plus doen ’n beroep dat die reg sy volle gang moet gaan en dat skuldiges sonder verwyl verhoor en gepas gevonnis word. Slegs deur seker te maak dat streng vonnisse toegepas word, kan die publiek se vertroue in die regstelsel herstel word en die geloof dat misdaad nie die laaste sê het nie, versterk word.

Verder herinner die voorval aan die dringende noodsaaklikheid om voortdurend gefokus te bly op die bekamping van ontvoerings in die metro.

Te veel voorvalle van hierdie aard het die afgelope tyd plaasgevind, ook elders in Suid-Afrika, en die VF Plus sal aanhou druk plaas op owerhede om proaktief op te tree en misdaadvoorkoming te versterk.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.