Die VF Plus het in samewerking met ‘n plaaslike sekerheidsmaatskappy verskeie veiligheidsrisiko’s in die Lekwa-plaaslike munisipaliteit (Standerton, Morgenzon) geïdentifiseer.
Dit sluit in verskeie skuilplekke van vermeende misdadigers in Meyerville. Huisinbrake hier is tans ‘n groot kommer.
Luidens statistiek wat die sekuriteitsdienste verskaf het, was daar sedert Junie 2023 onderskeidelik elf huisbrake en agt voorvalle van diefstal by huise in Meyerville. Dit vind veral tydens beurtkrag plaas.
Die skuilplekke en beweegroetes van die boosdoeners is aan die VF Plus uitgewys. Dit is veral in die oorgroeide areas tussen riete en bosse wat nie deur die plaaslike munisipaliteit in stand gehou of skoongesny word nie.
Straatligte wat buite werking is, maak dit ook makliker vir skelms om in die donker te skuil. Die VF Plus het reeds druk begin toepas om die straatligprobleem dringend op te los.
Die VF Plus het die munisipale hoof van gemeenskapsveiligheid, me. Thobeka Mtshiselwa, genader om die oorgroeide areas waar boosdoeners beweeg, skoon te sny.
Me. Mtshiselwa het toegegee aan die versoek en die nodige toerusting is reeds bekom. Werk sal eersdaags begin.
Die VF Plus het ook ʼn skrywe gerig aan die munisipale bestuurder, mnr. Malosi Lamola, en gevra dat daar dringend aandag gegee moet word aan die straatligte wat buite werking is in Frederikstraat.
Hy is ook versoek om die gebruik van sonkragligte te oorweeg tydens kragonderbrekings.
Die VF Plus sal volgehoue druk toepas om seker te maak dat inwoners in ʼn veilige omgewing kan woon en werk.


