Die ANC in Mpumalanga het weer sy standpunt bevestig dat slegs toerisme-ondernemings wat aan swart bemagtigingsvereistes voldoen, staatshulp sal ontvang.
Dit sluit Mpumalanga se departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme se Covid-19-hulpverleningsfonds van R10 miljoen in.
Die VF Plus het die volgende vrae in die provinsiale wetgewer gevra aan die LUR, Vusi Mkhatshwa, rakende die finansieringsmodel:
• Is die befondsing slegs op spesifieke rassegroepe gemik en waarom word ras as maatstaf gebruik om maatskappye in wit besit te ontneem van hulp? Dit is tog belangrik om te erken dat die Covid-19-virus nie 'n ekonomie of sy slagoffers op grond van velkleur kies nie.
• Hoeveel toerisme-ondernemings in Mpumalanga voldoen aan die gestelde vereistes en regverdig gekwantifiseerde navorsing R10 miljoen se hulp aan dié ondernemings?
• Hoeveel swart bemagtigingsmaatskappye vind baat by die hulp en hoeveel sal elke toerisme-onderneming ontvang?
• Of die departement bewus is van hoeveel anderskleurige Suid-Afrikaners in diens is van toerisme-ondernemings wat nie aan die swart bemagtigingsvereistes voldoen nie?
• Watter finansieringsmodel gebruik sal word vir die verdeling van die fondse?
Die vrae het grotendeels onbeantwoord gebly. Daar is slegs belowe dat die name van die toerisme-ondernemings aangeteken sal word en toekennings dan versprei sal word.
Mkhatshwa kon of wou ook nie uitbrei oor hoe die beplande uitrol van die finansiering sou plaasvind nie.
Vir die doeleindes van goeie bestuur moet daar ‘n spesifieke plan wees hoe die finansiering gaan plaasvind voordat die uitgawes aangegaan word.
Dit is duidelik dat die provinsiale regering van Mpumalanga nie ontroer is deur die lydende toerismebedryf nie. Swart en wit werknemers van ondernemings in wit besit word geoffer om die ANC se agenda vir radikale ekonomiese transformasie te dryf. Die Covid-19-pandemie is bloot ‘n verskoning om dit vinniger te laat gebeur.
Die VF Plus sal aanhou om teen onsinnige wetgewing soos regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging te veg.


